Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie. Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word.
Diabetes mellitus
Die universele blou sirkelsimbool vir diabetes.[1]
Diabetes mellitus, dikwels net diabetes genoem en voorheen[7] beter bekend as suikersiekte, is 'n groep algemene siektes van die endokriene stelsel wat gekenmerk word deur hiperglukemie (hoë bloedsuikervlakke).[8][9] Diabetes word veroorsaak deurdat óf die pankreas nie genoeg insulien vervaardig nie óf die selle van die liggaam nie op die hormoon reageer nie.[10]
Klassieke simptome sluit in dors, herhaaldelike urinering, gewigsverlies en dowwe sig. As dit nie behandel word nie, kan die siekte tot verskeie gesondheidsprobleme lei, onder meer siektes van die hartbloedvatstelsel, oë, niere en senuwees.[3] Onbehandelde of swak behandelde diabetes lei jaarliks wêrelwyd tot sowat 1,5 miljoen sterftes.[8]
Die hoofsoorte diabetes is tipe 1 en 2.[11] Die algemeenste behandeling vir tipe 1-diabetes is insulienvervangingsterapie (insulieninspuitings), terwyl medisynes soos metformien en semaglutied en lewenstylaanpassings gebruik kan word om tipe 2-diabete te bestuur. Gestasionele of swangerskapsdiabetes, 'n vorm wat tydens swangerskap in sommige vroue voorkom, normaliseer nadat die vroue die lewe geskenk het.
Teen 2021 het 'n geraamde 537 miljoen mense wêreldwyd (sowat 10,5% van volwassenes) aan diabetes gelei, waarvan tipe 2 meer as 90% van gevalle uitgemaak het. Daar word geraam dat 783 miljoen volwassenes, of een uit elke agt, teen 2045 die siekte sal hê. Dit is 'n toename van 46% van die huidige syfers.[12] Die siekte neem veral drasties toe in nasies met lae- tot middelklasinkomstes.[13] Dit is wêreldwyd die sewende grootste oorsaak van sterftes.[14][15] Dit kom ewe veel in mans en vroue voor.
Tekens en simptome
Die klassieke simptome van onbehandelde diabetes is gereelde urinering, dors en gewigsverlies.[16] Verskeie ander, niespesifieke tekens en simptome kan ook voorkom, soos moegheid, dowwe sig en 'n genitale gejeuk weens 'n fungusinfeksie.[16] Sowat die helfte van individue met diabetes kan geen simptome hê nie.[16] Tipe 1 kom skielik voor ná 'n prekliniese fase, terwyl tipe 2 geleideliker begin; pasiënte kan baie jare lank asimptomaties wees.[17]
Diabetiese ketoasidose is 'n mediese noodgeval wat meestal saam met tipe 1-diabetes voorkom, maar soms ook saam met tipe 2.[18] Die oormatige vervaardiging van ketoliggame lei tot tekens en simptome soos naarheid, vomering, maagpyn, die reuk van asetoon in die asem, diep asemhaling en in erge gevalle 'n afname in die vlak van bewustheid.[18]
Hiperglukemie is 'n erkende komplikasie van insulienbehandeling vir diabetes.[19] Dit kan simptome insluit soos sweet, bewerigheid en 'n versnelde hartklop tot 'n ernstiger uitwerking soos verwarring, toevalle en in skaars gevalle die dood.[19]
Komplikasies op lang termyn
Die grootste langtermynkomplikasies van diabetes hou verband met die bloedvate, op makro- én mikrovaskulêre vlak.[20][21] Diabetes verdubbel die risiko van hartbloedvatsiektes, en sowat 75% van sterftes onder mense met diabetes is weens kroonslagaarsiektes.[22] Ander ernstige makrovaskulêre toestande sluit in beroerte en die vernouing van are in hoofsaaklik die bene.[23]
Mikrovaskulêre siektes tas die oë, niere en senuwees aan.[20] Skade aan die retina, bekend as diabetiese retinopatie, is die algemeenste oorsaak van blindheid in mense van werkende ouderdom.[16] Die oë kan ook op ander maniere aangetas word, soos deur die ontwikkeling van katarakte en gloukoom.[16] Mense met diabetes word aangeraai om een keer per jaar 'n optometris of oftalmoloog te besoek.[24]
Diabetiese nefropatie is 'n groot oorsaak van chroniese niersiekte en is die rede vir meer as 50% van pasiënte in die Verenigde State wat dialise kry.[25] Diabetiese neuropatie, skade aan die senuwees, kom op baie maniere tot uiting, insluitende sintuiglike verlies, neuropatiese pyn en outonomiese disfunksie (soos ortostatiese hipotensie, diarree en erektiele disfunksie).[16] Die verlies van pynsensasie veroorsaak trauma wat kan lei tot diabetiese voetprobleme (soos seervorming, die algemeenste oorsaak van amputasie).[16]
Uitgebreide data en talle gevalle van galsteensiekte dui daarop dat daar 'n verband kan wees tussen tipe 2-diabetes en galstene. Mens met diabetes het 'n hoër risiko om galstene te ontwikkel as mense daarsonder.[26]
Die Wêreldgesondheidsorganisasie erken ses soorte diabetes, onder meer tipe 1-, tipe 2-, swangerskaps- en ongeklassifiseerde diabetes.[35] Dit is 'n siekte met meer vorme as wat voorheen besef is, en 'n mens kan 'n kombinasie van vorme hê.[36]
Tipe 1
Tipe 1 maak 5-10% van diabetesgevalle uit en is die algemeenste vorm wat in pasiënte onder 20 jaar oud gediagnoseer word.[37] Tog begin dit dikwels in ouer volwassenes.[25] Die siekte word gekenmerk deur die verlies van die insulienvervaardigende betaselle van die eilandjies van Langerhans in die pankreas wat die metabolisme van koolhidrate en vette reguleer. Dit lei tot 'n ernstige insulientekort, en dit kan verder geklassifiseer word as immuungemedieer of idiopaties (sonder 'n bekende oorsaak).[37] Die meeste gevalle is immuungemedieer, wanneer 'n T-sel-gemedieerde outo-immuunaanval die verlies van betaselle, en dus 'n tekort aan insulien, veroorsaak.[38] Pasiënte het dikwels ongereelde en onvoorspelbare bloedsuikervlakke weens te min insulien.[39]
Tipe 1-diabetes is deels oorerflik, met verskeie gene wat die risiko beïnvloed. In mense wat geneties ontvanklik is, kan die begin van diabetes aan die gang gesit word deur een of meer omgewingsfaktore,[40] soos 'n virusinfeksie of dieet. Daar is egter geen bewyse dat sekere virusse daarvoor verantwoordelik is nie.[40][41]
Tipe 1-diabetes kan op enige ouderdom begin, en baie diagnoses word in volwassenes gemaak. "Latente outo-immuundiabetes van volwassenes" (latent autoimmune diabetes of adults, of LADA) is die diagnostiese term wat gebruik word wanneer tipe 1-diabetes in volwassenes ontwikkel; dit begin stadiger as dieselfde toestand in kinders. Om die verskil aan te dui gebruik sommige mense die nieamptelike term "tipe 1.5-diabetes" vir dié toestand.
Volwassenes met LADA word dikwels aanvanklik met tipe 2-diabetes gediagnoseer, geskoei op ouderdom eerder as op 'n oorsaak.[42]
Tipe 2
Tipe 2-diabetes word gekenmerk deur insulienweerstandigheid, wat gekombineer kan wees met 'n relatief verminderde insulienafskeiding.[10] Die defektiewe reaksie van liggaamsweefsel op insulien betrek vermoedelik die insulienreseptore.[43] Die spesifieke defekte is egter onbekend. Gevalle met 'n bekende defek word apart geklassifiseer.
Tipe 2-diabetes is die algemeenste vorm van diabetes mellitus en maak 95% van gevalle uit.[2] Baie mense met dié vorm het prediabetes (aangetaste glukosetoleransie) voordat hulle aan die kriteria vir tipe 2-diabetes voldoen.[44] Die ontwikkeling van prediabetes tot volle tipe 2-diabetes kan verlangsaam of omgekeer word deur leefstylveranderings of medisyne wat insuliensenstiwiteit verhoog of die lewer se glukosevervaardiging laat afneem.[45]
Tipe 2-diabetes word hoofsaaklik deur leefstylfaktore en genetika veroorsaak.[46] 'n Paar leefstylfaktore is bekend wat kan lei tot die ontwikkeling van tipe 2-diabetes, insluitende obesiteit ('n liggaamsmassaindeks van meer as 30), 'n gebrek aan fisieke aktiwiteit, 'n swak dieet, stres en verstedeliking.[15][47]
Dieetfaktore soos drankies wat met suiker versoet is, word met 'n groter risiko verbind.[48][49] Die soort vette in die dieet is ook belangrik; versadigde vet en transvet verhoog die risiko, terwyl poli- en mono-onversadigde vet die risiko verklein.[46] Die eet van te veel witrys kan die risiko verhoog, veral onder Chinese en Japannese.[50] Die gebrek aan oefening kan in sommige mense die risiko verhoog.[51]
Onaangename ondervindings as kind soos mishandeling, verwaarlosing en probleme in die huishouding vergroot die risiko vir tipe 2-diabetes later in die lewe met 32%. Verwaarlosing het die grootste uitwerking.[52]
Swangerskapsdiabetes
Swangerskapsdiabetes toon baie ooreenkomste met tipe 2-diabetes, want dit word gekenmerk deur 'n kombinasie van relatief onvoldoende insulienafskeiding en -reaksie. Dit kom voor in sowat 2-10% van alle swangerskappe en kan ná die geboorte verbeter of verdwyn.[53] Die aanbeveling is dat alle swanger vroue begin toets word ná sowat 24-28 weke van swangerskap.[54]
Ná die swangerskap het sowat 5-10% van vroue met swangerskapsdiabetes steeds die een of ander vorm van diabetes, meestal tipe 2.[53] Swangerskapsdiabetes is ten volle behandelbaar, maar vereis noukeurige mediese toesig deur die swangerskap. Bestuur kan insluit dieetveranderings, bloedglukosemonitering en in sommige gevalle die gee van insulien.[55] Hoewel dit van verbygaande aard is, kan onbehandelde swangerskapsdiabetes die gesondheid van die fetus of die moeder skade berokken. 'n Paar van die risiko's vir die baba sluit in 'n hoë geboortemassa en abnormaliteite van die hart, sentrale senuweestelsel en skeletspiere.
Dubbele diabetes
Nog 'n vorm van die siekte is dubbele diabetes. Dit kom voor wanner 'n lyer aan tipe 1-diabetes insulienweerstandig word, wat die stempel van tipe 2-diabetes is, of 'n familiegeskiedenis van tipe 2 het.[56] Dit is in 1990-'91 die eerste keer ontdek.
Patofisiologie
Insulien is die hoofhormoon wat die opneem van glukose uit die bloed in die meeste selle van die liggaam reguleer, veral die lewer, vetweefsel en spiere, buiten gladde spiere waarin insulien via the IGF-1 (insulienagtige groeifaktor 1) optree. Dus speel die gebrek aan insulien of die onsensitiwiteit van sy reseptore 'n belangrike rol in alle vorme van diabetes mellitus.[57]
Die liggaam kry glukose van dié drie hoofbronne: die opneem van kos; die afbreek van glukogeen, die gebergde vorm van glukose wat in die lewer aangetref word; en glukoneogenese, die skepping van glukose van niekarbohidraatsubstrata in die liggaam.[58] Insulien speel 'n kritieke rol in die beheer van die glukosevlak in die liggaam. Insulien kan die afbreek van glukogeen of die proses van glukoneogenese onderdruk, en dit kan die vervoer van glukose na vet- en spierselle en die berging van glukose in die vorm van glukogeen stimuleer.[58]
Insulien word in die bloed vrygestel deur betaselle (β-selle) in die eilandjies van Langerhans in die pankreas, in reaksie op die stygende vlakke van bloedglukose, gewoonlik ná 'n ete. Insulien word deur sowat twee derdes van die liggaam se selle gebruik om glukose uit die bloed te absorbeer vir gebruik as brandstof, vir omsetting in ander benodigde molekules of vir berging. 'n Laer glukosevlak lei tot 'n afname in die vrystelling van insulien van die betaselle en die afbreek van glukogeen in glukose. Dié proses word hoofsaaklik beheer deur die hormoon glukagoon, wat op die teenoorgestelde manier as insulien optree.[59]
As die hoeveelheid beskikbare insulien onvoldoende is of die selle swak reageer op die uitwerking van insulien (insulienweerstandigheid) of as die insulien self defektief is, word glukose nie behoorlik deur die liggaamselle opgeneem wat dit nodig het nie, en dit word nie behoorlik in die lewer en spiere geberg nie. Die glukosevlak in die bloed bly dus hoog en daar is swak proteïensintese en ander metaboliese afwykings.[58]
Wanneer te veel glukose vir 'n lang tyd in die bloed voorkom, kan die niere dit nie alles absorbeer nie en die ekstra glukose word uit die liggaam geskei deur urine (glukosurie).[60] Dit laat die osmotiese druk van die urine toeneem en inhibeer die heropneem van water deur die niere. Dit kan lei tot groter urinevervaardiging (poliurie) en 'n toename in vloeistofverlies. Verlore bloedvolume word osmoties van water in liggaamselle en ander liggaamsdele vervang en dit veroorsaak dehidrasie en 'n toename in dors (polidipsie).[58] Daarbenewens stimuleer 'n intersellulêre glukosegebrek aptyt, en dit lei tot 'n abnormale eetlus (polifagie).[61]
Diagnose
Diabetes mellitus word op verskeie manier gediagnoseer met 'n toets vir die glukose-inhoud van die bloed. Dit sluit in:[62]
Glukosevlak ná 'n vastydperk ≥ 7,0 mmol/L (126 mg/dL). Dié toets word in die oggend voor ontbyt gedoen nadat die pasiënt minstens agt uur voor die tyd gevas het.
Plasmaglukose ≥ 11,1 mmol/L (200 mg/dL) twee uur nadat 75 gram glukose per mond ingeneem is; ook bekend as 'n glukosetoleransietoets.
Simptome van hoë bloedsuiker en plasmaglukose ≥ 11,1 mmol/L (200 mg/dL) óf terwyl gevas word óf sonder om te vas.
Enige van die toetse moet verkieslik op 'n ander dag herhaal word.[63] Volgens die huidige definisie word twee glukosemetings van op of bo 7,0 mmol/L (126 mg/dL) beskou as 'n diagnose van diabetes mellitus.
Vir die WGO word mense met 'n vasglukosevlak van 6,1 tot 6,9 mmol/L (110 tot 125 mg/dL) beskou as dat hulle prediabetes het.[64] Mense met plasmaglukose op of bo 7,8 mmol/L (140 mg/dL), maar nie bo 11,1 mmol/L (200 mg/dL) twee uur nadat 75 gram glukose per mond ingeneem is nie, word beskou as dat hulle prediabetes het. Veral laasgenoemde loop die risiko om volle diabetes mellitus te ontwikkel, asook hartbloedvatsiektes.[65]
Voorkoming
Daar is sover bekend geen manier om tipe 1-diabetes te voorkom nie.[2] Eilandjies-outo-immuniteit en veelvuldige teenliggaampies kan egter 'n sterk aanduiding van die begin van tipe 1 wees.[66] Tipe 2-diabetes, wat in meer as 90% van alle diabeteslyers voorkom, kan voorkom en vertraag word[67] deur 'n normale liggaamsgewig te handhaaf, oefeninge te doen en gesond te eet.[2] Hoër vlakke van fisieke aktiwiteit (meer as 90 minute per dag) verminder die risiko van diabetes met 28%.[68] Dieetveranderings wat doeltreffend is in die voorkoming van diabetes sluit in die inneem van kosse ryk aan heel graan en dieetvesel, asook goeie vette soos poli-onversadigde vette wat in neute, groente-olies en vis voorkom.[69]
Die beperking van suikerryke drankies en die eet van minder rooivleis, en ander bronne van versadigde vette, kan ook help om diabetes te voorkom.[69] Die rook van tabak word ook verbind met 'n groter risiko vir diabetes en sy komplikasies. Dit kan dus ook help om op te hou rook.[70] Die verhouding tusen tipe 2-diabetes en die veranderbare risikofaktore is dieselfde in alle streke van die wêreld.[71]
Bestuur
Diabetesbestuur konsentreer op 'n poging om die suikervlak in die bloed so na moontlik aan normaal te hou, sonder dat die vlak te laag daal.[72] Dit kan gewoonlik reggekry word met dieetaanpassings,[73] oefening, gewigsverlies en die gebruik van medisyne (insulien of orale medikasie).[72]
Dit is belangrik om meer te leer oor die siekte en deel te neem aan die behandeling, want komplikasies is veel minder algemeen en minder ernstig wanneer mense hulle suikervlak goed bestuur.[72][74] Die doelwit van behandeling is 'n A1C-vlak van minder as 7%.[75][76] A1C, ook HbA1C genoem, is 'n vorm van hemoglobien (Hb) wat chemies aan suiker verbind word.
Aandag word ook geskenk aan ander gesondheidsprobleme wat die negatiewe uitwerking van die siekte kan versnel. Dit sluit in rook, hoë bloeddruk, oorgewig en die gebrek aan gereelde oefening.[72] Diabeteslyers se voete moet jaarliks ondersoek word.[77] Spesiale skoeisel kan gedra word om die gevaar van voetsere weens druk te verklein.[78][79][80]
Leefstyl
Mense met diabetes kan voordeel trek uit opvoeding oor die siekte en behandeling, dieetveranderings en oefening, met die doel om die glukosevlak op kort én lang termyn binne perke te hou. Vanweë die verwante risiko van hartbloedvatsiektes word leefstylveranderings ook aanbeveel om hoë bloeddruk te beheer.[81]
Gewigsverlies kan die vordering van prediabetes tot tipe 2-diabetes voorkom, die risiko van hartbloedvatsiektes verlaag of lei tot 'n permanente remissie in mense met diabetes.[82][83] Geen enekele dieetpatroon is die beste vir alle mense met diabetes nie.[84] Daar is egter verskeie soorte diëte waaruit gekies kan word, soos die Mediterreense, minkoolhidraat- of DASH-dieet (om hoë bloeddruk te beheer).[82][83] Vir oorgewig mense met tipe 2-diabetes is enige dieet wat tot gewigsverlies lei doeltreffend.[84]
Medikasie
Glukosebeheer
Die meeste medisynes wat gebruik word om diabetes te behandel verlaag die bloedsuikervlak deur middel van verskillende meganismes. Daar is algemene konsensus dat wanneer diabeteslyers streng glukosebeheer toepas en die glukosevlak in hulle bloed binne normale perke hou, hulle minder komplikasies ervaar soos nier- en retinaprobleme.[85][86] Daar word egter gedebatteer of dit toepaslik en kostedoeltreffend is vir ouer mense in wie die risiko vir hipoglukemie groter is.[87]
Daar is verskeie klasse medisyne vir diabetes. Tipe 1-diabetes vereis behandeling met insulien.[88] Tipe 2-diabetes word gewoonlik behandel met medisyne wat mondelings geneem word (soos metformien), hoewel sommige later insulieninspuitings kan nodig kry.[89]
Metformien word gewoonlik aanbeveel as eerste behandeling vir tipe 2-diabetes, want daar is goeie bewyse dat dit sterftes verminder.[90] Dit verlaag die lewer se vervaardiging van glukose en verhoog die hoeveelheid glukose wat in perifere weefsel geberg word.[91] Verskeie ander groepe medisynes wat mondelings geneem word, verlaag bloedsuiker in mense met tipe 2-diabetes. Dit sluit in middels wat die vrystelling van insulien verhoog (sulfonilureums), wat die opname van suiker uit die ingewande verminder (akarbose), wat die liggaam sensitiewer vir insulien maak (sitagliptien), ensovoorts.
Sommige uiterste gevalle van tipe 2-diabetes kan ook met insulien behandel word. Die dosis word geleidelik verhoog totdat glukoseteikens bereik is.[90][92]
Verlaging van hoë bloeddruk
Hartbloedvatsiektes is 'n ernstige komplikasie wat met diabetes vereenselwig word. Baie internasionale riglyne beveel behandeling vir hoë bloeddruk aan tot waar die vlak laer as 140/90 mmHg vir diabeteslyers is.[93] Daar is egter beperkte bewyse van wat die laagste teiken moet wees.[94]
Aspirien
Die gebruik van aspirien om hartbloedvatsiektes in diabeteslyers te voorkom is omstrede.[95] Aspirien word soms aanbeveel vir mense met 'n hoë risiko vir hartbloedvatsiektes, maar dit lyk nie of die roetinegebruik van aspirien ongekompliseerde diabetes verlig nie.[96]
Chirurgie
In oorgewig diabeteslyers is chirurgie dikwels 'n doeltreffende maatreël.[97] Baie mense kan ná chirurgie 'n normale bloedsuikervlak handhaaf met min of geen medisyne,[98] en sterftes op lang termyn word verminder.[99] Daar is egter 'n korttermynsterftesyfer van minder as 1% weens die chirurgie.[100]
'n Pankreasoorplanting word soms oorweeg vir mense met tipe 1-diabetes wat ernstige komplikasies ondervind, soos niersiektes wat 'n nieroorplanting verg.[101]
Ander soogdiere
Diabetes kan in soogdiere en reptiele voorkom.[102][103]Voëls kry nie diabetes nie danksy hulle buitengewone toleransie vir hoë bloedsuikervlakke.[104]
In diere kom diabetes meestal in honde en katte voor. Middeljarige diere word die meeste aangetas. Tewe is twee keer so geneig om dit te kry as reuns, terwyl mannetjieskatte dit meer dikwels kry as wyfies. In albei spesies kan alle rasse die siekte kry, maar sommige klein honderasse soos miniatuurpoedels is veral geneig om diabetes te ontwikkel.[105]
↑"Symptoms and Causes of Diabetes". National Institute of Diabetes and Digestive and Kidney Diseases, US National Institutes of Health. 2024. Besoek op 16 Mei 2024.
↑"Facts & figures". International Diabetes Federation. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Augustus 2023. Besoek op 10 Augustus 2023.
↑Goldman, Lee; Schafer, Andrew (2020). Goldman-Cecil Medicine (26th uitg.). Elsevier. pp. 1490–1510. ISBN978-0-323-53266-2.
↑ 18,018,1Penman, Ian; Ralston, Stuart; Strachan, Mark; Hobson, Richard (2023). Davidson's Principles and Practice of Medicine (24th uitg.). Elsevier. pp. 703–753. ISBN978-0-7020-8348-8.
↑"Diabetes eye care". MedlinePlus. Maryland: National Library of Medicine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Maart 2018. Besoek op 27 Maart 2018.
↑ 25,025,1Wing, Edward J; Schiffman, Fred (2022). Cecil Essentials of Medicine (10th uitg.). Pennsylvania: Elsevier. pp. 282–297, 662–677. ISBN978-0-323-72271-1.
↑Tinajero MG, Malik VS (September 2021). "An Update on the Epidemiology of Type 2 Diabetes: A Global Perspective". Endocrinology and Metabolism Clinics of North America. 50 (3): 337–355. doi:10.1016/j.ecl.2021.05.013. PMID34399949.
↑Tuomi T, Santoro N, Caprio S, Cai M, Weng J, Groop L (Maart 2014). "The many faces of diabetes: a disease with increasing heterogeneity". Lancet. 383 (9922): 1084–1094. doi:10.1016/S0140-6736(13)62219-9. PMID24315621. S2CID12679248.
↑Brutsaert, EF (September 2022). "Diabetes Mellitus (DM)". MSD Manual Professional Version. Merck Publishing. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Augustus 2023. Besoek op 15 Augustus 2023.
↑Huang H, Yan P, Shan Z, Chen S, Li M, Luo C, et al. (November 2015). "Adverse childhood experiences and risk of type 2 diabetes: A systematic review and meta-analysis". Metabolism. 64 (11): 1408–1418. doi:10.1016/j.metabol.2015.08.019. PMID26404480.
↑Willi C, Bodenmann P, Ghali WA, Faris PD, Cornuz J (Desember 2007). "Active smoking and the risk of type 2 diabetes: a systematic review and meta-analysis". JAMA. 298 (22): 2654–2664. doi:10.1001/jama.298.22.2654. PMID18073361. S2CID30550981.
↑ 72,072,172,272,3"Managing diabetes". National Institute of Diabetes and Digestive and Kidney Diseases, US National Institutes of Health. 1 Desember 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2023. Besoek op 4 Februarie 2023.
↑The Diabetes Control and Complications Trial Research Group (April 1995). "The effect of intensive diabetes therapy on the development and progression of neuropathy". Annals of Internal Medicine. 122 (8): 561–568. doi:10.7326/0003-4819-122-8-199504150-00001. PMID7887548. S2CID24754081.
↑"The A1C test and diabetes". National Institute of Diabetes and Digestive and Kidney Diseases, US National Institutes of Health. 1 April 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Februarie 2023. Besoek op 4 Februarie 2023.
↑Rosberger DF (Desember 2013). "Diabetic retinopathy: current concepts and emerging therapy". Endocrinology and Metabolism Clinics of North America. 42 (4): 721–745. doi:10.1016/j.ecl.2013.08.001. PMID24286948.
↑MacIsaac RJ, Jerums G, Ekinci EI (Maart 2018). "Glycemic Control as Primary Prevention for Diabetic Kidney Disease". Advances in Chronic Kidney Disease. 25 (2): 141–148. doi:10.1053/j.ackd.2017.11.003. PMID29580578.
↑"Type 2 diabetes in adults: management". www.nice.org.uk. National Institute for Health and Care Excellence. 2 Desember 2015. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2020. Besoek op 25 Desember 2020.
↑Schulman AP, del Genio F, Sinha N, Rubino F (September–Oktober 2009). ""Metabolic" surgery for treatment of type 2 diabetes mellitus". Endocrine Practice. 15 (6): 624–631. doi:10.4158/EP09170.RAR. PMID19625245.
↑Stahl SJ (1 Januarie 2006). "Hyperglycemia in Reptiles". In Mader DR (red.). Reptile Medicine and Surgery (Second uitg.). Saint Louis: W.B. Saunders. pp. 822–830. doi:10.1016/b0-72-169327-x/50062-6. ISBN978-0-7216-9327-9.
↑Sweazea KL (8 Julie 2022). "Revisiting glucose regulation in birds - A negative model of diabetes complications". Comparative Biochemistry and Physiology. Part B, Biochemistry & Molecular Biology. 262: 110778. doi:10.1016/j.cbpb.2022.110778. PMID35817273. S2CID250404382.
↑"Diabetes mellitus". Merck Veterinary Manual (9th uitg.). 2005. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2011. Besoek op 23 Oktober 2011.