Die Baltiese tale word in twee hoofgroepe verdeel:
die Oos- of Sentraal-Baltiese tale met Litaus, Lets, die Lets-Koerse dialek van die Koerse Skoorwal, Selonies, Semigallies en Samogities;
die Wes-Baltiese tale met Oudpruisies, Jatwingies, Galindies, Dniëpr-Balties en Sudowies.
Taalkundiges verskil nog oor die klassifisering van Koers; volgens 'n omstrede hipotese was dit oorspronklik 'n Wes-Baltiese taal wat onder sterk invloed van Oos-Baltiese tale gekom het en uiteindelik baie kenmerke met hulle gedeel het. Ander wetenskaplikes verwerp die konsep van Oos- en Wes-Baltiese subgroepe heeltemal.
Met die uitsondering van Litaus en Lets het alle Baltiese tale gedurende die 16de en 17de eeu uitgesterf. Tans word daar egter pogings onderneem om Oud-Pruisies te rekonstrueer en as gesproke taal te laat herleef. Die Lets-Koerse dialek op die Koerse Skoorwal word tans deur minder as tien mense as moedertaal gepraat en word met uitsterwing bedreig.
Die twee ander belangrike tale, wat in die Baltiese lande gepraat word (Estnies en Lyfs), maak as Fins-Oegriese tale nie deel uit van die Baltiese taalfamilie nie.