Die Balchasj-meer (Kasaks: Балқаш Көлі, Balqaş köli, [bɑlqɑɕ kwʏlɪ]; Russies: Озеро Балхаш, Ozero Balchasj; letterlik: "moeras-meer") is die tweede grootste meer in Asië ná die Baikalmeer met 'n oppervlakte van 16 400 km² en is in Oos-Kasakstan wes van die grens tot die Volksrepubliek China geleë. Die grootste rivier, wat in die meer uitmond, is die Ili.
Nes die Aralmeer word die Balchasj-meer deur ontwatering bedreig. Die Sowjetunie het in die 1960's begin water van die Balchasj-meer se invloeie te neem vir die besproeiing van katoenvelde. 'n Ander bedreiging vir die Balchasj-meer is die groeiende waterverbruik van die Chinese outonome gewes Xinjiang as gevolg van die groot bevolkingsgroei, waar die Ili, die Balchasj-meer se belangrikste waterbron, ontspring.