Die appelblaar (Philenoptera violacea) is 'n middelgroot tot groot boom wat onder die familieFabaceae resorteer. Dit is een van 11 Philenoptera-spesies wat almal endemies aan Afrika is. Die appelblaar is inheems aan Afrika suidwaarts van die ewenaar, en is in Suid-Afrika 'n beskermde spesie.[2] Die FSA-nommer is 238.[3]
Taksonomie
Materiaal van die appelblaar is in 1861 tydens 'n veldekskursie in Mosambiek deur Johann Klotzsch versamel en afgebeeld as Capassa violacea. In 2000 is dit egter as Philenoptera violacea herbenaam.[4] Homotipiese sinonieme sluit Lonchocarpus violaceus deur Daniel Olivier en Derris violacea deur Hermann Harms in, wat onderskeidelik in 1872 en 1902 beskryf is.[1]
Beskrywing
Die boom groei tot 20 meter hoog en is bladwisselend. Dit het krom of gedraaide stamme, en die blarekroon is gewoonlik redelik oop. Die blare is veervormig saamgesteld, met die blaartjies in pare, benewens een eindstandige blaartjie. Die blomme wat in lentetyd verskyn is ligpers van kleur. Die plat, hangende peul bevat 2 tot 4 niervormige sade.[5]
Habitat
Die appelblaar is inheems aan die suidelike trope en subtrope van Afrika, waar dit voorkom in areas met voldoende grondwater. Dit is algemeen aan rivieroewers en in grasveld van vloedvlaktes, benewens in miombo-boomveld van plato's. Die substraat is dikwels alluvium, Kalaharisand of termiethope. Dit groei algemeen in laagliggende gebiede maar word tot op hoogtes van 1 400 m aangetref.[6]
Die termietwerende hout word in die bou van tradisionele behuising soos rondawels gebruik, en benewens vir handvatsels van implemente ensomeer. Die blare en peule word deur wild en mak diere gevreet.[5] Die wortels en bas is egter toksies, en laasgenoemde word soms as visgif benut. Ten spyte van die toksisiteit van die bas word dit wel as tradisionele medisyne gebruik.[5]
Ander name
In Afrikaans staan dit ook as olifantsoor, raasboom of stamperhout bekend.[5] In Engels staan dit benewens apple leaf as die rain tree bekend. Laasgenoemde naam is afgelei van die waterdruppels wat selfs tydens droë weer uit die boom val om poeletjies op die grond te vorm. Die verskynsel word veroorsaak deur skuimnesbesies (Ptyelus grossus) wat die boom infekteer en die sap uitsuig. Nadat hulle suiker en soute uit die sap onttrek het, word byna suiwer water afgeskei om die sogenaamde reën te vorm.[7][8] Ander name sluit in Mphata in Noord-Sotho, Mopororo in Tswana,[5] Mbhandzu, Mbhandu of Mohata in Tsonga, isiHomohomo, Umbhandu of Umphanda in Zoeloe, Mufhanda in Venda[5] en iChithamuzi, iDungamuzi of iPhanda in Noord-Ndebele.