Die waterkoedoe (Tragelaphus spekei) (Engels: Sitatunga) is 'n wildsbok wat in Suider-Afrika voorkom; in die noorde van Botswana, die Caprivistrook en die suide van Angola. Die bul weeg tot 114 kg en die koei tot 55 kg. Dit is 'n baie sku bok van middelslaggrootte. Dit het langerige hare en 'n wit chevronmerk tussen die oë. Die bulle is donkergrysbruin en die koeie geelbruin tot kastaiingkleurig. Daar is wit kolle op die sye en boude. Die koeie het nie horings nie. Hulle kom veral voor in oorstroomde gebiede soos die Okavangodelta. Hulle kan goed swem en hul natuurlike vyande is leeus en krokodille.