Volkshospitaal

Die Volkshospitaal in Kaapstad staan tans bekend as die Mediclinic Kaapstad.

Ligging

Die hospitaal is geleë tussen Hofstraat en Moltenoweg, regoor De Waalpark, in Oranjezicht.

Geskiedenis

Reeds in 1919 het ‘n kommissie bestaande uit vooraanstaande lidmate van die NG Kerk, lede van Afrikanerorganisasies en dokters met ‘n fondsinsameling begin vir die stigting van die beoogde hospitaal. ‘n Spesifieke doel was ook die opleiding van tweetalige verpleegsters. Alle winste sou vir die verdere ontwikkeling van die hospitaal aangewend word. In November 1919 het die sinode van die kerk sy steun aan die projek toegesê. ‘n Bekende lid van Italiaanse gemeenskap in die stad, Giuseppe Rubbi, was die argitek en aannemer. Op 26 Februarie 1930 is die hospitaal ingewy deur die minister van gesondheid, dr. D.F. Malan. In 1950 is die aanliggende terrein aangekoop en ‘n verpleegterstehuis opgerig. Tien jaar later het verdere uitbreidings gevolg met moderne teaters, ‘n kindersaal en kantore. Vanaf 1980 was dit ‘n staatshospitaal totdat Mediclinic die beheer in 1998 oorneem.

Pasiënte

Nelson Mandela was in hierdie hospitaal van 3 tot 23 November 1985 vir ‘n prostaatoperasie. Ander bekende pasiënte was Hans Strijdom, Uys Krige en I.D. du Plessis.

Bibliografie

  • artefacts.co.za
  • journals.co.za
  • www.mediclinic.com