Uranos (Grieks: Οὐρανός) of Uranus was in die Griekse mitologie ’n oergod (Lug) en die man van Gaia (Aarde). Hulle was die voorouers van die meeste van die Griekse gode, maar hy het geen bekende kultus gehad nie[2] en word nie dikwels in die Griekse kuns uitgebeeld nie.
Uranos het elke nag gekom om die aarde te dek en met sy suster Gaia te paar, maar hy het die kinders gehaat waaraan sy die lewe geskenk het. Onder hulle was die reusagtige eenoogsiklope, toe die drie verskriklike honderdhandige reuse, elk met vyftig koppe. Uranos het die kinders in Tartaros versteek sodat hulle nie die lig sou sien nie, en hy was baie in sy skik met dié wrede daad. Gaia was hartseer en maak toe ’n sekel, roep haar ander seuns en vra hulle om hul pa te ontman. Net Kronos was dapper genoeg om dit te doen. Uit die semen of bloed wat op Gaia gespat het, het nog kinders ontstaan: die sterk Eriniërs, die Gigante en die boomnimfe die Meliae. Uit Uranos se genitalieë wat in die see gegooi is, het Afrodite te voorskyn gekom.
Nadat hy Uranos onttroon het, het Kronos weer die siklope en honderdhandiges in Tartaros gevange gehou. Uranos en Gaia het toe voorspel dat hy op sy beurt deur sy seun onttroon sou word.
Die planeet Uranus
Die antieke Grieke en Romeine het net vyf "wandelende sterre" (planete) geken: Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus. Ná die ontdekking van ’n sesde planeet in die 18de eeu is die naam Uranus gekies as die logiese naam: Mars (Ares in Grieks) was die seun van Jupiter, Jupiter (Zeus) die seun van Saturnus en Saturnus (Kronos) die seun van Uranos/Uranus. Wat vreemd is, is dat die ander name Romeins is in teenstelling met Uranus, wat van die Griekse Uranos afgelei is pleks van die Romeinse god Caelus.
Kinders
Uranos het al sy kinders by Gaia gehad, buiten Afrodite, wat uit sy genitalieë ontstaan het nadat dit in die see gegooi is.
↑"Ons het nie gedink hulle is op enige manier waardig genoeg om te aanbid nie," het Karl Kerenyi namens die antieke Grieke oor die Titane gesê (Kerenyi, The Gods of the Greeks, 1951:20); "miskien met die enkele uitsondering van Kronos; en ook met die uitsondering van Helios."
Kerenyi, Carl, 1951. The Gods of the Greeks
Graves, Robert, hersiene uitgawe, 1960. The Greek Myths.