Britt Daniel en Jim Eno het as lede van 'n ander groep, The Alien Beats, ontmoet en het die groep Spoon in 1994 tot stand gebring.[2] Die naam is 'n eerbetoon aan die Duitse avant-gardegroep Can wat in 1972 'n treffer met die titel "Spoon" gehad het wat ook die temalied van die rolprent Das Messer (Duits, Die Mes) was.[3]
Spoon se opnamedebuut was die vinielvrystelling van die EPNefarious in Mei 1994.[4]
In 1995 het die groep 'n platekontrak met Matador Records aangegaan en in 1996 het hulle hul eerste vollengte LP, Telephono, vrygestel. Die album het gemengde resensies ontvang en kritici het hul klank met dié van Pixies en Wire vergelyk.[5] Maar — vergelykinge ter syde gestel — met Telephono het die groep 'n wegbreek van hul invloede getoon met hul mengsel van postpunk en pop.[6] Minder as één jaar daarna het Spoon hul tweede EP, Soft Effects, vrygestel, wat as 'n oorgang tot hul meer herkenbare, versoete klank gedien het.[7] In teenstelling met sy voorgangers was Soft Effects minder geraserig en suur en het dit 'n meer gesofistikeerde, minimalistiese benadering gedemonstreer.[8]
Hoofstroom debuut
In 1998 het Spoon 'n platekontrak met Elektra Records aangegaan, onder wie se etiket die groep in Mei 1998 A Series of Sneaks vrygestel het. Weens swak verkope het Ron Laffitte, Spoon se verteenwoordiger by Elektra wat beloof het om die groep nie te verlaat nie, vier maande ná die vrystelling bedank en in daardieselfde week is die groep se kontrak gekanselleer.[9] Uit wederaksie het Spoon 'n humoristies getitelde tweesnit-enkelspeler vrygestel, genaamd "The Agony of Laffitte" met die snitte "The Agony of Laffitte" en "Laffitte Don't Fail Me Now", waarin hulle oor hul ervaring in die musiekbedryf sing en Laffitte se persoonlike agenda bevraagteken.[10]
Kommersiële sukses
In 2000 het die groep 'n platekontrak met die indierockuitgewer Merge Records onderteken en het hulle in dieselfde jaar die EP Love Ways vrygestel.[8]Baskitaarspeler Josh Zarbo het nie saam aan hierdie EP gewerk nie, aangesien hy die groep vir 'n kort rukkie verlaat het.[11]
Spoon se derde vollengte ateljeealbum, Girls Can Tell, is in 2001 tot suksesvolle ontvangs vrygestel: meer eksemplare daarvan is verkoop as van beide vorige vollengte albums tesame.[12]
Die groep se volgende vrystelling in 2002, Kill the Moonlight, het soortgelyke sukses behaal.[12]Kill the Moontlight het die enkelsnit "The Way We Get By" bevat, wat as deel van die klankbaan van The O.C. gewildheid verwerf het.[13]
Hul volgende album, Gimme Fiction, is in Mei 2005 vrygestel en het op posisie 44 op die Amerikaanse trefferlys Billboard 200 gedebuteer.[14] Meer as 160 000 kopieë is verkoop.[14]
Spoon se Britt Daniel het in samewerking met Brian Reitzell die 2006 rolprent Stranger Than Fiction se klankbaan gekomponeer en aangepas. Die klankbaan bevat ook menige snitte van Kill the Moonlight en Gimme Fiction wat tot instrumentele weergawes aangepas is.
Op 10 Julie 2007 is Ga Ga Ga Ga Ga vrygestel en het dit op 10de posisie op die Billboard 200-trefferlys gedebuteer.[15]
Spoon se sewende ateljeealbum, Transference, is op 18 Januarie 2010 vrygestel. Dit het op #4 op die Billboard 200-trefferlys gedebuteer en daar is 53 000 kopieë daarvan in die eerste week verkoop.