Warne het sy eerste Toetswedstryd in 1992 gespeel en meer as 1 000 paaltjies in toetse en Internasionale eendagwedstryde (EDI's) geneem.[5] Warne se 708 toetspaaltjies was tot 2007 die rekord vir die meeste paaltjies wat deur enige bouler in toetskrieket geneem is.[6] Hy is as een van die Wisden Krieketspelers van die Jaar gekies in die 1994 Wisden Krieketalmanak,[7] en was die Wisden Voorste Krieketspeler in die Wêreld in 1997 en 2004.[8][9] Hy was 'n nuttige stertkolwer en het meer as 3 000 toetslopies aangeteken, met 'n hoogste telling van 99 – en is steeds die kolwer wat die meeste lopies behaal het sonder 'n toetshonderdtal agter sy naam.[10] Warne het plaaslike krieket vir sy tuisstaat van Victoria en Engelse plaaslike krieket vir die Hampshire Graafskap gespeel. Hy was vir drie seisoene (vanaf 2005 tot 2007) kaptein van dié span.
Warne het in Januarie 2007, aan die einde van Australië se Reeks om die As reeksoorwinning oor Engeland uitgetree. Sy loopbaan het egter ook 'n reeks skandale opgelewer, insluitende 'n verbod op die speel van krieket na aanleiding van 'n positiewe toetsuitslag vir 'n verbode middel, aanklagte dat hy die sport in oneer gebring het, deurdat hy geld aanvaar het van beroepswedders, en seksuele wangedrag.
In 2007 is Warne as deel van Australië se beste EDI-span van alle tye gekies. Hy het in die eerste vier seisoene (2008–2011) van die Indiese Premierliga vir die Rajastan Royals gespeel, beide as kaptein en afrigter, en die kompetisie in 2008 gewen. Tydens die 150ste herdenking van die Wisden Cricketers' Almanack is Warne as deel van 'n "all-time Test World XI" gekies.[11] In 2012 is hy ook in die "Cricket Hall of Fame" ingelyf deur Krieket Australië.[12] In 2013 is Warne in die IKR se "Cricket Hall of Fame" ingelyf.[13] Tydens 'n peiling deur die Cricketers' Almanack in 2017 is hy as deel van Australië se beste elftal vir die "Reeks om die As" van die laaste 40 jaar gekies.[14] In Februarie 2018 het die Rajasthan Royals Warne as hul spanmentor aangestel vir die 2018-seisoen van die Indiese Premierliga.[15]
Na sy uittrede het hy gereeld as krieketkommentator gewerk, vernaam op Australië se Nine Network. Hy het sy tyd gegee aan liefdadigheidsorganisasies en ook kommersiële produkte bemark. Ter erkenning van sy bemeestering van die kuns van draaiboul en sy vaardighede is 'n standbeeld van hom by die Melbourne-krieketveld opgerig.
↑(en) "1000 wickets for Warne". The Sydney Morning Herald. 3 Januarie 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Oktober 2007. Besoek op 3 Januarie 2007.