Die eerste trekboere het hulle vroeg in die 18de eeu in dié gebied kom vestig en dit na ’n soort wilde rog, Secale africanum, genoem. In ’n stadium is dié soort gras ernstig bedreig, maar danksy die weikampstelsel en grondbewaring is dit in oorvloed hervestig. Die gemiddelde reënval is 250 mm per jaar, maar op sommige plekke 330 tot 500 mm. Die winters is bitter koud.
Die eerste persoon by wie ’n vermelding van die streeknaam Roggeveld voorkom, is die Sweedse reisiger en plantkundige Thunberg in 1774. Volgens hom is die streek so genoem "na ’n soort rog wat hier volop tussen die bosse wild groei".[1][2]Hinrich Lichtenstein, in sy Travels in Southern Africa, staaf dié oorsprong van die naam: "The truth is, that the name is taken from a species of grass which grows very much among clefts, resembling rye, and which the colonists call wild rye."[2]