Die Rio Araguaia [ˈʁi.u ɐɾɐˈɡwaj.jɐ] is 'n groot noord-vloeiende rivier in Suid-Amerika. Die rivier, met 'n lengte van 1 910 km, is die vyfde langste rivier in Brasilië na die Amasonerivier, die Río Paraná, die Rio São Francisco en die Rio Tocantins, en die derde langste rivier, wat net in dié land vloei. Die Rio Araguaia is die grootste sytak van die Rio Tocantins. Die naam van die rivier beteken "Rivier van die (rooi) Aras" in die inheemse Tupí-taal.
Die Rio Araguaia vloei deur die volgende deelstate: Goiás, Mato Grosso, Tocantins en Pará. Dit ontspring naby die driehoek van die deelstate Goiás, Mato Grosso do Sul en Mato Grosso. Aansluitend vorm die rivier die grens tussen Mato Grosso in die weste en Goiás, later Tocantins in die ooste, verder noord tussen Pará in die weste en Tocantins in die ooste. Later mond die Rio Araguaia naby São João do Araguaia in die Rio Tocantins uit, wat verder noord naby Belém in die Atlantiese Oseaan uitmond.
In sy breë middelloop verdeel die Rio Araguaia in twee arme, wat later weer saamvloei en die Ilha do Bananal (Portugees vir: "Piesang-eiland") vorm, die wêreld se grootste riviereiland. Hier is die Araguaia Nasionale Park geleë, waar die inheemse Karajá-volk leef.
Rio Javaés of Braço Menor do Araguaia (Sytak regs of oostelik van die Ilha do Bananal)
Rio do Cóco
Rio Caiapo
Rio Piranhas
Rio Bananal
Rio Muricizal
Rio Lontra
Rio Cordâ
Rio Piranha
Verwysings
↑(en) Ziesler, R.; Ardizzone, G.D. (1979). "Amazon River System". The Inland waters of Latin America. Food and Agriculture Organization of the United Nations. ISBN92-5-000780-9. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Oktober 2013. Besoek op 28 Februarie 2015.