Rapportryers

Die Rapportryers is ‘n kultuurvereniging vir Afrikaner-mans.

Doel

Die organisasie op Christelik-nasionale grondslag strewe na die beskerming en behoud van die Afrikaanse taal, kultuur, leefwyse en die bevordering van samehorigheid onder die volksgenote. Veral word gestry vir wat eie is aan die Afrikaner in die tyd van toenemende verstedeliking en oorheersing van die Anglo-Amerikaanse kultuur.

Naam en stigting

Die woord rapportryer verwys terug na die draers van boodskappe (dus rapporte) in oorlogstyd. In 1949 met die inwyding van die Voortrekkermonument het perderuiters vanuit die uithoeke van die land boodskappe van gelukwense na Pretoria gebring. Na hierdie ruiters is ook as rapportryers verwys. Vroeg in die 1950’s is ‘n weerontmoeting van hierdie ruiters gehou en word die eerste klub, deur hulle ‘n korps genoem, gestig. Dit is snel opgevolg met ander soortgelyke klubs. In Augustus 1960 is ‘n Federasie van Rapportryerskorpse gevorm en is al die klubs saamgesnoer onder die slagspreuk “Draers van die boodskap”.

Klubs

Op sy hoogtepunt teen 1980 was daar ‘n 530 korpse in Suid- en Suidwes-Afrika. ‘n Veertigtal jaar later het dit afgeneem tot ‘n 30. Lidmaatskap geskied op uitnodiging en is beperk tot blanke, Christelike Afrikaanssprekende mans van bo ±35 jaar. Daar bestaan egter ‘n soortgelyke beweging vir jonger simpatisante.

Werksaamhede

Om die doelstellings te bereik reël die korpse volksfeeste, musiekaande, boekbesprekings, jeugleierskursusse, debatskompetisies en kinderkunsuitstallings. Oudhede word versamel en monumente onderhou, ouetehuise en kinderhuise word bygestaan. Klubvergaderings word dikwels toegespreek deur politici en ander meningsvormers.

Bibliografie

  • rapportryers.org.za
  • Venter, E.A.: 400 leiers in Suid-Afrika oor vier eeue. Beskouinge oor vierhonderd leiersfigure in Suid-Afrika sedert die grondlegging. Potchefstroom: privaat uitgawe, 1980. ISBN 0-620-03622-2