Orkaan Andrew was 'n tropiese sikloon wat op 16 Augustus 1992 uit 'n tropiese golf gevorm het.
Oorsprong en ontwikkeling
'n Tropiese Depressie het op 16 Augustus ontstaan uit 'n tropiese stormversteuring wat op 14 Augustus van die Afrika-kus af beweeg het. Dit het verder wes-noordwes beweeg en is bevorder tot die tropiese storm Andrew suidwes van die Kaap Verdiese eilandgroep. Daar ervaar Andrew 'n trog van laedruk in die boonste atmosfeer, wat Andrew se struktuur in so 'n mate beïnvloed dat dit op 20 Augustus amper verbrokkel het. Die volgende dag het Andrew halfpad tussen Puerto Rico en Bermuda aangekom. Daar het dit weswaarts gedraai en toestande het gunstiger geword vir verdere ontwikkeling. Op 21 Augustus het Andrew aangegroei tot 'n orkaan en die volgende dag tot 'n vyfde kategorie tropiese sikloon. Op 23 Augustus het Andrew sy hoogtepunt bereik met windsnelhede van 280 km/h en 'n lugdruk van 922 mbar.
Andrew se deursnee het tot ongeveer 300 km uitgebrei en dit het oor twee eilande van die Bahamas beweeg. Tussen Florida en die Bahamas het Andrew warm seewater opgeraap en weer die vyfde kategorie bereik. Op 24 Augustus het die sikloon in die suide van Florida aan land beweeg met winde van 265 km/h en 'n druk van 922 mbar. Andrew het oor Florida in die Golf van Mexiko gegaan as 'n kategorie 4-orkaan. Daar het dit noord na die staat Louisiana gedraai. Op 26 Augustus het Andrew as 'n kategorie 3-orkaan oor Morgan City in Louisiana beweeg. Daarna draai Andrew na die noordooste en verswak.
Andrew is uiteindelik geabsorbeer deur 'n ander stelsel oor Tennessee. Andrew is oorspronklik as 'n Kategorie 4-orkaan geklassifiseer.
Tot met orkaan Katrina was Andrew die derde laagste barometriese drukorkaan op land in die Verenigde State. Andrew was die duurste orkaan tot met die koms van Katrina in 2005. Ook met Andrew het die slagoffers gekla dat noodlenigingspogings stadig was. Andrew het 26 lewens geëis en $26 500 000 000 se skade aangerig.[1][2][3][4]
Verwysings
↑Edward Rappaport (December 10, 1993). "Hurricane Andrew". National Hurricane Center (Miami, Florida: National Oceanic and Atmospheric Administration National Weather Service). http://www.nhc.noaa.gov/1992andrew.html. Besoek op June 21, 2012.