Norsk rikskringkasting AS, wat gewoonlik onder die afkorting NRK bekend staan, is 'n staatsbeheerde Noorse uitsaaikorporasie wat naas televisie- en radioprogramme ook inhoude vir nuwe media soos internettelevisie aanbied. NRK fungeer net soos die BritseBBC, die SweedseSVT, die DuitseARD en ZDF en die Suid-AfrikaanseSAUK as 'n publieke uitsaaikorporasie en is 'n lid van die Europese Uitsaaiunie (European Broadcasting Union, EBU). NRK is die grootste mediamaatskappy in Noorweë. NRK het sy hoofkwartiere in Marienlyst (Oslo) en Tyholt (Trondheim).
Finansiering en begroting
NRK word hoofsaaklik deur TV-lisensies gefinansieer. Die NRK se lisensie-inkomste het in 2005 meer as drie miljard NOK beloop – 'n bedrag wat gelykgestaan het aan die totale Noorse besteding aan kultuur.
Geskiedenis
Die eerste gereelde radioprogram in Noorweë is vanaf 1925 deur Kringkastingselskapet A/S, 'n privaatbeheerde uitsaaikorporasie en historiese voorloper van NRK, aangebied. Die staatsbeheerde NRK is in 1933 gestig en was net soos die Britse BBC veral daarop gemik om inligtingsprogramme vir die algemene publiek uit te saai. Nuusberigte en ander inligting het in die beginjare dan ook die oorgrote deel van die uitgesaaide programme gevorm. Met sy stigting het NRK oor 90 medewerkers beskik en sy radioprogramme tussen tien en 22:45 uur uitgesaai, met 'n pouse tussen 15:00 en 17:00.
Die Noorse term Kringkasting, 'n regstreekse vertaling van die Engelse woord broadcasting, is vir die eerste keer in 1924 gebruik en het vanaf 1925 as amptelike benaming gedien.
In die oorlogsjare tussen 1940 en 1945 is die uitsaaiwese in Noorweë deur die Nazi-bewind beheer, en die uitsaainetwerk is gedeeltelik verniel. Die NRK het na die Verenigde Koninkryk uitgewyk van waar Noorse programme onder die leiding van Toralv Øksnevad as Stemmen fra London ("Die Stem uit Londen") uitgesaai is. Hierdie programme, en veral die spesiale gekodeerde nuusbulletins, het van die NRK 'n belangrike spreekbuis vir die Noorse weerstandsbeweging gemaak. Die Duitsers het van die begin van die besetting in 1940 af reklame in Noorse radioprogramme verbied uit vrees vir verborge gekodeerde boodskappe.
Ná die oorlog het die NRK sy uitsaaidienste hervat, en sedert die 1950's het vermaak en streeksgebonde programme uit die verskillende distrikte 'n steeds belangriker rol begin speel. Nadat NRK in sy eerste dertig bestaansjare op sy radiodienste gefokus het, is in 1954 met die eerste toetse vir 'n televisie-uitsaaidiens begin, en vanaf 1960 is gereelde televisieprogramme aangebied. Die Noorse televisiediens is op 20 Augustus 1960 amptelik geopen.[2]
Reeds tydens die Olimpiese Winterspele van die jaar 1968 in Grenoble (Frankryk) is talle programme as kleurtelevisie uitgesaai. Die NRK het or 'n kleurtelevisiekamera beskik wat deur televisie-aanbieders ingespan is om bont kleure by die aankondiging van programme in te bring. Toe in die vroeë 1970's meer frekwensies vir kleurtelevisiedienste beskikbaar gestel is, het ook die nuusbulletin Dagsrevyen na kleurtelevisie oorgeskakel. Die meeste televisiefilms en die speurderreeks Detektimen op Vrydagaande is destyds al as kleurprogramme uitgesaai, alhoewel NRK se gereelde kleurtelevisiediens eers vanaf 1975 ingestel is. Die nuwe medium het in hierdie periode 'n oorheersende rol gespeel, en radiodienste het minder gewild geraak.
Tot in die 1980's het NRK oor 'n monopolie ten opsigte van televisie- en radioprogramme beskik. Die elektroniese mediabedryf is vervolgens aangevul met die eerste streeksgebonde privaat radiostasies, en vanaf 1987 het ook privaat televisieuitsaaidienste soos TVNorge hul programme aangebied. In 1992 het NRK se nasionale televisiedienste met TV2 'n strawwe privaat mededinger gekry.
Tekst-TV, die Noorse televisieteks, word sedert 1983 aangebied, terwyl die internet-gebaseerde interaktiewe televisiediens NRK.no/NRK Interaktiv in 1994 van stapel gestuur is. In 1996 het NRK 'n staatsbeheerde aandelemaatskappy geword.
Die vermaaklikheidssentrum NRK Opplevelser is in 2003 in NRK se hoofkwartier Marienlyst in Oslo geopen. Die sentrum staan oop vir besoekers en behandel onder meer die geskiedenis van NRK in beelde en klank.
Organisasie
NRK is in agt afdelings opgedeel. NRK Kringkasting beheer die uitsaai-aktiwiteite van NRK, terwyl vier afdelings vir die produksie van programme verantwoordelik is:
NYDI (distriks- en nuusafdeling) bestaan uit NRK Nyheter met sy hoofkantoor in Marienlyst, en die twaalf distrikskantore:
NRK Program Oslo met sy hoofkantoor in Marienlyst produseer onder meer vermaaklikheids-, kultuur- en nuusprogramme, asook televisiedramas en programme vir kinders en jongmense
NRK Program riks behartig die produksie van nasionale radio- en televisieprogramme buite Oslo
NRK Sámi Radio produseer programme in Noors en Samies wat veral op Samiessprekende gehore gemik is
Daarnaas bestaan NRK uit NRK Ressurser, 'n regsafdeling en NRK se bestuur.
NRK bied daarnaas saam met MTG die sportkanaal SportN aan wat sy programme sedert 29 November 2005 uitsaai.
Internet- en selfoondienste
Die eerste internetdiens van NRK is in 1994 van stapel gestuur – destyds is die televisieprogram Rondo met Petter Nome in samewerking met Oslonett via die internet uitgesaai. Straks daarna het P2 begin om sy diens Radionettet met opnames van programme op die internet aan te bied.
Vandag pronk NRK met een van die grootste internetgebaseerde multimediadienste in Europa. NRK was ook die eerste uitsaaikorporasie wat sy televisieprogramme in 2004 in selfoonnetwerke aangebied het. Alle radioprogramme word regstreeks via die internet uitgesaai en daarna nog drie weke lank as opnames ter beskikking gestel. Daarnaas word ook bepaalde televisieprogramme regstreeks uitgesaai en as video's beskikbaar gestel.
In Januarie 2007 het NRK 'n aflewering van die speurderreeks Kodenavn Hunter op die internet beskikbaar gestel wat deur gebruikers in HDTV-gehalte afgelaai kon word.[5]
Verkeersnuus word deur NRK via WAP en internet aangebied; besonderhede aangaande vlugte, treine en die aktuele padsituasie word gereeld opgedateer. NRK se WAP-portaal is deur die Sweedse selfoontydskrif Mobil in 2006 as die wêreld se tweede beste selfoon-webwerf ná Google se soekenjin aangewys.[6]
NRK is een van min Europse uitsaaikorporasies wat hul dienste op die internet gedeeltelik met advertensies finansier. Die Noorse dagblad het op 21 April 2008 bekend gemaak dat NRK tans besig is om sy programargief op die internet beskikbaar te stel.[7]
Buitelandse dienste
In 1948 het NRK begin om 'n radioprogram uit te saai wat spesifiek op seemanne en Noorweërs in die buiteland gemik was. Die program het bekend gestaan as Utenlandssendingen, Sjømannssendningen of Kortbølgen. Die program het oorspronklik 'n uur, later 'n halfuur geduur en op nuusberigte uit Noorweë gekonsentreer. 'n Gewilde bestanddeel van die program was Postkassa wat twee keer per week uitgesaai is. Mense het hier die geleentheid gekry om 'n musikale boodskap aan hul familielede of vriende in die buiteland te stuur. Die diens is op 31 Desember 2002 gestaak.
↑Deel 'n gemeenskaplike kanaal met NRK Super. Programme word saans en snags uitgesaai.
↑Deel 'n gemeenskaplike kanaal met P2. Programme word tussen middernag en 06.00 uitgesaai. Vanaf 21 Mai 2008 word programme via DAB dwarsdeur die dag uitgesaai. NRK.no: Jazz til alle døgnets tider (7 Mai 2008).