Die gemeente is gestig op die plaas Roodepoort, 4 000 morge teen £1 000 van A. Allenberg gekoop. Die naam sou Cassel wees, maar ene Albert von Gordon, landmeter, afkomstig uit Frankfurt, Duitsland, het gratis opmeting aangebied mits die naam na sy geboorteplek Frankfurt ("Frankedrif") sou wees. 'n Grasdakkerkie met misvloer moes voorlopig as plek van aanbidding dien.
Die behoefte aan 'n beter bedehuis was groot en op 5 November1883 lê pres. Jan Brand die hoeksteen van die eerste kerk. Eindelik neem ds. G. Thom in 1884 'n beroep aan en word deur Johannes (Hans) Fourie (later die eerste burgemeester van Frankfort) op Colesberg met wa en osse gehaal. Mev. Thom is later deur D.W. Steyn en N. van. Rensburg met 'n verewa op Kimberley gehaal.
Tweede Vryheidsoorlog
Onder die Vrystaatse Republiek het die gemeente gebloei en armoede was iets onbekends, maar in Oktober 1899 pak donker oorlogswolke saam en word die mooi republiek vernietig; die gemeente Frankfort ly swaar en sy kerkgebou word in puin gelê. Die laaste kerkraadsvergadering voor die oorlog is teen die einde van 1899 gehou. Die Britse troepe het die dorp heeltemal vernietig – al die huise, met alles daarin, asook die kerk en pastorie is verbrand. Saam met die pastorie is alle kerklike boeke en registers met die boekery van die predikant vernietig, asook die brandkas met alles daarin. Die predikant, ds. G. Thom, en enige kerkraadslede is as krygsgevangenes na Ceylon verban. Hulle, sowel as die ander wat tot die einde toe gestry het, het ná die oorlog teruggekom, hoewel sommige op die slagveld gewond is. Die oorlog was verby.
Ná die oorlog
Op 14 Februarie1903 het die predikant met lede van sy ou kerkraad in 'n tent vergader om planne vir die toekoms te beraam. Die medewerker van Ons gemeentelike feesalbum skryf in 1952: "Aandoenlik is die notule van hierdie eerste vergadering van gespaardes, waar sovele in die oorlog gesneuwel het. Met 'geen kerk, geen pastorie, geen kerklike besittings' is die predikant en kerkraad vasbeslote om uit die puin van die dwingelandy op te staan en die geloofsoog op die toekoms te rig."
Ds. Thom is op 6 September1908 oorlede, en op 3 Julie1909 is ds. J.P. van der Walt beroep en later bevestig.