Die McDonnell Douglas F/A-18 Hornet is 'n tweemotorige supersoniese, alle weersomstandighede, vliegdekskipbruikbare veeldoelvegvliegtuig, ontwerp as beide 'n vegter en aanvalsvliegtuig (F/A verwys na "fighter/attack"). Die F/A-18 is ontwerp deur McDonnell Douglas en Northrop, en is afgelei van laasgenoemde se YF-17 in die 1970's vir gebruik deur die Amerikaanse Vloot en die Marinierskorps. Die Hornet word ook gebruik deur verskeie ander lande se lugmagte. Die Amerikaanse Vloot se vlugdemonstrasie-eskader, die Blue Angels, gebruik die Hornet sedert 1986.
Die F/A-18 het 'n topspoed van Mach 1,8 (1 915 km/h op 40 000 voet of 12 190 m). Dit kan 'n wye verskeidenheid van bomme en missiele dra, insluitend lug-tot-lug en lug-tot-grond, aangevul deur die 20 mm M61 Vulcankanon. Die vliegtuig word aangedryf deur twee General Electric F404 turbowaaierenjins, wat aan die tuig 'n hoë stukrag-tot-massaverhouding gee. Die F/A-18 het uitstekende lugdinamiese eienskappe, hoofsaaklik toe te skryf aan die verlengstukke vooraan beide sy vlerke.
Die vegter se primêre gebruike is vir gevegsbystand, vlootverdediging, onderdrukking van die vyand se lugverdediging, lugverbod, nabylugondersteuning en lugverkenning. Sy veelsydigheid en betroubaarheid het bewys dat dit 'n waardevolle bate vir vliegdekskepe kan wees. Nogtans is hy gekritiseer vir sy gebrek aan verskeidenheid en loonvrag in vergelyking met sy vorige tydgenote, soos die Grumman F-14 Tomcat in die veg- en aanvalsrol, en die Grumman A-6 Intruder en LTV A-7 Corsair II in die aanvalsrol.
Tegniese gegewens
- Lengte: 17,07 m
- Vlerkspan: 11,43 m
- Hoogte: 4,66 m
- Maksimumsnelheid: Mach 1,8
- Reikafstand: 3 400 km
- Enjins: 2 General Electric F404 turbowaaierenjins
Sien ook
Verwysings