Maxine Moore Waters (née Carr, 15 Augustus 1938) is 'n Amerikaanse politikus wat sedert 1991 as die afgevaardigde vir Kalifornië se 43ste parlementêre distrik in die Amerikaanse laerhuis dien. Hierdie distrik, wat van 1991–1993 as die 29ste distrik en van 1993–2013 as die 35ste distrik genommer is, sluit groot dele van suidelike Los Angeles en dele van Gardena, Inglewood en Torrance in.
Waters is 'n lid van die Demokratiese Party en voer tans haar 15de termyn in die laerhuis uit. Sy is die mees senior van die twaalf swart vroue wat tans in die Amerikaanse parlement dien en sy was voorsitter van die Parlementêre Swart Koukus van 1997 tot 1999.[1] Sy is tans voorsitter van die Laerhuisfinansiëledienstekomitee.
Voor sy 'n afgevaardigde in die Amerikaanse laerhuis geword het, het Waters in die Deelstaatsvergadering van Kalifornië gedien, waartoe sy vir die eerste keer in 1976 verkies is. In die deelstaatsvergadering was sy 'n voorstander van disinvestering van Suid-Afrika se apartheidstelsel. In die federale laerhuis was sy 'n uitgesproke teenstander van die oorlog in Irak en 'n kritikus van die Republikeinse presidente George H. W. Bush, George W. Bush, en Donald Trump.[2]
Verwysings
Eksterne skakels