Ruffalo is in Kenosha, Wisconsin, gebore. Sy pa, Frank Lawrence Ruffalo jr., was ’n verwer en sy ma, Marie Rose Hebert, ’n haarkapper en stilis.[2][3][4] Hy het twee susters, Tania en Nicole, en ’n broer wat in 2008 dood is.[2] Sy pa is van Italiaanse afkoms en sy ma is half-Frans-Kanadees en half-Italiaans.[5]
Ruffalo het homself al as ’n gelukkige kind beskryf,[6] hoewel hy as kind en jong volwassene aan ongediagnoseerde disleksie en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) gelei het.[7] Hy het in Virginië grootgeword, waar sy pa gewerk het, en het op skool aan stoei deelgeneem. Hy het saam met sy gesin na San Diego in Kalifornië verhuis en daarna na Los Angeles. Hy was vir ’n paar produksies vir die Orpheus Theatre Company skrywer, regisseur en akteur en het amper ’n dekade lank as kroegman gewerk.[8]
Loopbaan
Ná die rol waarmee hy aandag getrek het in You Can Count on Me (2000), het hy in hoogs aangeskrewe prente verskyn soos Collateral (2004), Eternal Sunshine of the Spotless Mind (2004), Zodiac (2007) en Shutter Island (2010). Vir sy spel in The Kids Are All Right (2010) en Foxcatcher (2014) is hy benoem vir ’n Oscar en Golden Globe vir beste manlike byspeler.[2] In 2015 het hy weer lof en verskeie benoemings gekry vir sy spel in Infinitely Polar Bear en Spotlight.
Vir televisie het hy ’n Screen Actors Guild-prys gewen en ’n Emmy- en Golden Globe-benoeming gekry vir The Normal Heart, wat hy ook vervaardig het.
Persoonlike lewe
Ruffalo is sedert Junie 2000 getroud met Sunrise Coigney en hulle het drie kinders: die seun Keen (geb. 2001) en dogters Bella Noche (geb. 2005) en Odette (geb. 2007). Hulle woon in Manhattan.[9]
Ná die voltooiing van die prent The Last Castle in 2001 is Ruffalo gediagnoseer met ’n soort breingewas en is hy geopereer. Die gewas was goedaardig, maar het gelei tot ’n tydperk van gedeeltelike gesigsverlamming.[3] Hy het van die verlamming herstel, maar is sedertdien doof in sy linkeroor.[7]
Op 1 Desember 2008 is Ruffalo se broer, Scott, by sy huis in Beverly Hills geskiet.[10] Volgens een berig was dit ’n skoot in ’n teregstellingstyl van agter in die kop.[11] Hy is op 8 Desember dood. Die polisie het twee mense, ’n man en vrou, in hegtenis geneem.[12] Die vrou se prokureur het vir die polisie gesê Scott Ruffalo het homself per ongeluk geskiet.[13][14] Die vroulike verdagte is op 6 Januarie 2012 dood.[15]
Politieke sienings
Op 4 Oktober 2006 het hy op die daaglikse nuusprogram Democracy Now! verskyn en gepraat teen die oorlog in Irak, marteling en die administrasie van George W. Bush. Hy het op 14 Augustus 2008 op ’n program van Penn & Teller: Bullshit! verskyn met die titel "Wêreldvrede"[16] en is ’n voorstander van keuses vir ’n mens. Hy het gesê hy wil nie hê die tyd moet teruggaan na waar vroue hul swangerskappe onwettig laat beëindig het nie.[17]
Hy is ook ’n ondersteuner van LGBT-regte en is gekant teen hidrobreking (fracking). In 2008 het hy die bekendste teenstander daarvan geword nadat hy sy eie ondersoek oor die onderwerp gedoen het.[18] Hy het in verskeie programme verskyn om daaroor te praat.[19][20][21] In 2014 het hy ’n rol in ’n dokumentêr gespeel oor die gevolge van ’n groot olielekking.[22]
↑Wloszczyna, Susan (15 September 2005). "Ruffalo ascends to the next level in 'Heaven'". USA Today (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2018. Besoek op 20 Desember 2013. Ruffalo, an Italian-French-Canadian mix,,,
↑Pearlman, Cindy (25 Februarie 2007). "Working on a killer movie". Chicago Sun-Times (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Oktober 2007. Besoek op 20 September 2007.
↑ 7,07,1Hiatt, Brian (4 Mei 2015). "The Hulk: The Last Angry Man". Rolling Stone (in Engels). Wenner Media, Ltd. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Oktober 2017. Besoek op 5 Mei 2015.
↑Dumenco, Simon. "The Kid Stays In the Pictures". New York Magazine (in Engels). New York Media, LLC. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 November 2018. Besoek op 16 Desember 2015.