Kabwe is 'n stad in Zambië en die land se oudste myn. Die stad het 'n bevolking van meer as 193 100 (2007) en is sowat 100 km noord van die hoofstad Lusaka geleë op 'n hoogte van 1000 m bo seespieël en aan die vernaamste pad- en spoorverbinding wat die Koperstreek met die suide van die land verbind en sowat 1100 km direk noord van Bulawayo, Zimbabwe se naasgrootste stad.
Die myn is in 1902 geopen en lewer lood, vanadium en sink van hoë gehalte. Dit is na die Australiese myn genoem wat soortgelyk is. Hier is die kopbeen van 'n voorheen onbekende primitiewe mens (Homo rhodesiensis) ontdek, wat in die Britse Museum uitgestal word.
Besienswaardighede in die omgewing is die Lunsemfwa-waterval, 90 km oosnoordoos van die stad in die gelyknamige rivier. Die pad loop 6 km van die waterval af verby. Hier is 'n hidro-elektriese kragsentrale opgerig wat elektrisiteit aan die myn op Kabwe voorsien.