Die ster se ongewone ligwisselings is ontdek[1] uit data van die Kepler-ruimteteleskoop,[1][9][10][11][12] wat wisselings in die helderheid van verafgeleë sterre waarneem vir die moontlike opsporing van eksoplanete.[13] KIC 8462852 is tot dusver die enigste van die sowat 150 000 sterre wat die Kepler-sending monitor wat op dié manier optree.[14]
Verskeie hipoteses bestaan vir die ster se groot wisselings in helderheid. Die mees algemene een, gebaseer op die gebrek aan infrarooilig, is dat ’n swerm koue, stowwerige komeetstukke in ’n hoogs eksentrieke wentelbaan om die ster is.[15][16][17] Nog ’n voorstel is dat baie klein massas in "digte formasie" om die ster wentel.[9] Sommige glo die wisselings in helderheid word veroorsaak deur buiteaardse wesens wat ’n Dyson-swerm om die ster bou.[9][18][19][20] Die SETI-instituut se aanvanklike radioverkenning van KIC 8462852 het egter geen tekens opgelewer van tegnologiegebaseerde radioseine van die ster af nie.[21][22][23]
Ligging
KIC 8462852, wat so vroeg as 1890 al waargeneem is,[24][25] lê rofweg halfpad tussen die helder sterre Deneb (α Cyg, α Cygni, Alpha Cygni) en Delta Cygni (δ Cyg, δ Cygni) as deel van die Noorderkruis.[26] KIC 8462852 is suid van Omicron¹ Cygni (ο¹ Cygni, 31 Cygni) en noordoos van die sterreswermNGC 6866.[26] Hoewel dit net ’n paar boogminute van die swerm af is, is dit nie deel daarvan nie. Dit is nader aan die Son as aan die sterreswerm.
Teen ’n skynbare magnitude van 11,7 kan die ster nie met die blote oog gesien word nie, maar wel op ’n donker nag met min ligbesoedeling deur ’n 130 mm-teleskoop.[27]
Ligsterkte
Uit waarnemings van die Kepler-ruimteteleskoop van die ster se ligsterkte, is klein, gereelde dalings in helderheid sigbaar, asook twee lang dalings wat lyk of hulle sowat 750 dae uitmekaar is. Die omvang en ongereeldheid van die veranderings maak die ster van besondere belang vir sterrekundiges.[20] Dit stem ooreen met veranderings wat veroorsaak sal word deur baie klein massas wat in "digte formasie" om die ster wentel.[9]
Die eerste groot daling, op 5 Maart 2011, het die ster se helderheid met tot 15% laat afneem en die ander een, op 28 Februarie 2013, met tot 22%. In vergelyking daarmee sal ’n planeet van Jupiter se grootte ’n ster so groot soos KIC 8462852 se helderheid met sowat 1% laat afneem as dit voor die ster verbybeweeg. Dit dui daarop dat ’n planeet nie die lig blokkeer nie, maar iets wat tot die helfte van die ster verberg.[20] Weens ’n tegniese probleem het Kepler nie die voorspelde daling in helderheid omstreeks April 2015 geregistreer nie;[1][19] verdere waarnemings word vir Mei 2017 beplan.[19]
Ligkurwes
Algemeen
Op 5 Maart 2011 (dag 792 van Kepler se waarnemings)
Op 28 Februarie 2013 (dag 1519 van Kepler se waarnemings)
17 April 2013 (dag 1568 van Kepler se waarnemings)
Benewens bogenoemde dalings in ligsterkte, suggereer ’n studie van ’n eeu se fotografiese plate dat die ster van 1890 tot 1989 geleidelik met sowat 20% verdof het, wat ’n eerste sou wees vir ’n tipe F-hoofreeksster.[24][25] Om akkurate magnitudes uit langtermyn fotografiese argiewe af te lei is egter ’n ingewikkelde prosedure wat veranderende fotografiese toerusting in ag moet neem, en dit hang af van watter sterre vir vergelykings gebruik word. In ’n ander studie van die dieselfde plate is bevind die moontlike eeu lange verdowwing is waarskynlik ’n datafout en nie ’n werklike gebeurtenis nie.[28] Daar word gehoop die bestudering van bykomende plate kan lig op die saak werp.
Hipoteses
Gebaseer op die ster se spektraaltipe, kan die veranderings in ligsterkte toegeskryf word aan intrinsieke veranderlikheid[1] en ’n paar hipoteses bestaan oor materiaal wat dalk om die ster wentel en die lig blokkeer, maar nie een van hulle verduidelik die verskynsel ten volle nie.
Die sterrekundige Jason Wright (wat deur Boyajian geraadpleeg is)[7][32] an ander wat KIC 8462852 bestudeer het, het in ’n opvolgverslag voorgestel as die ster jonger is as wat sy posisie en spoed suggereer, kan die ligdalings deur saamsmeltende materiaal om die ster veroorsaak word.[4] In ’n spektroskopiese studie van die sterstelsel is egter geen tekens gevind van saamsmeltende materiaal binne ’n paar astronomiese eenhede van die sentrale ster nie.[15][31]
Planetêre afval
Die ster se spektrale energieverspreiding is ook ondersoek.[1][29] ’n Enorme botsing sou warm stof veroorsaak het wat in infrarooigolflengtes gloei, maar geen oortollige infrarooi-energie is waargeneem nie en dit sluit enorme hoeveelhede planetêre afval weens ’n botsing uit.[20] In nog ’n spektroskopiese ondersoek is ook geen bewyse binne ’n paar astronomiese eenhede van die sentrale ster gevind van warm stof wat deur ’n verdampende of ontploffende planeet veroorsaak kon gewees het nie.[15][31]
’n Gebrek aan sulke bewyse steun die hipotese dat ’n swerm koue komete in ’n buitengewoon eksentrieke wentelbaan vir die ster se besonderse ligkurwe verantwoordelik kan wees, maar verdere studies is nodig.[15][33]
’n Wolk disintegrerende komete
Nog ’n hipotese is dat die verskynsel deur ’n wolk disintegrerende komete veroorsaak word wat in ’n elliptiese wentelbaan om die ster is.[1][15][17][10] Volgens dié scenario kon die swaartekrag van ’n nabygeleë ster veroorsaak het dat komete uit die ster se Oort-wolk na die binnekant van die stelsel val. Een moontlikheid is ’n rooidwerg binne 885 AE van KIC 8462852 af. Daar is egter twyfel daaroor of soveel komete uit die ster se Oort-wolk naby aan die ster kan wentel dat dit 22% van die lig verduister.[20]
Submillimeter-golflengte-waarnemings waarin gesoek is na koue stof verder van die ster af, in die stelsel se Kuiper-gordel, dui daarop dat ’n "katastrofiese" planetêre versteuring heel waarskynlik nie die antwoord is nie; die moontlikheid van ’n Kuiper-gordel wat komete na die binneste deel van die stelsel versprei, moet nog ondersoek word.[34]
’n Megastruktuur
Wright[7][32] en ander se hipotese is dat die voorwerpe wat die lig verduister, dele kan wees van ’n megastruktuur wat deur buiteaardse wesens gebou is, soos ’n Dyson-swerm[4][9][10] – ’n hipotetiese struktuur wat ’n buiteaardse beskawing om ’n ster kan bou om van die ster se lig vas te vang vir hul energiebehoeftes.[35][36][37] Vanweë die groot mediadekking daarvan is KIC 8462852 deur Kepler se Steve Howell vergelyk met KIC 4110611, ’n ander ster met ’n vreemde ligkurwe (wat ná jare se ondersoeke geblyk het ’n vyfsterstelsel te wees).[38] Wright het klem gelê op die belangrikheid van toekomstige spektrale studies oor KIC 8462852.[39] Hy het gesê die kans is baie klein dat buiteaardse wesens die ligkurwe kan veroorsaak; die ster is egter ’n gewilde SETI-teiken (wat buiteaardse lewe soek) omdat geen bevredigende antwoord nog gevind is wat op natuurlike oorsake dui nie.[4][11]
Op 19 Oktober 2015 het die SETI-instituut aangekondig hulle gaan soek na radiogolwe van moontlike intelligente buiteaardse wesens in die nabyheid van die ster.[40][41] Ná ’n aanvanklike ondersoek van twee weke het die instituut in November 2015 aangekondig hulle het geen tekens van tegnologieverwante radioseine gekry nie.[21][22][23] In Februarie 2016 is in nog ’n SETI-verwante studie, van gammastraal-argiefmateriaal van 2009 tot 2015, geen bewyse gevind van optiese pulsseine wat met KIC 8462852 verband hou nie.[42]
Opvolgstudies
Baie optiese teleskope en spektografiese instrumente monitor KIC 8462852 in afwagting van nog ’n groot daling in ligsterkte om te meet of dit ’n soliede voorwerp is wat die ligdaling veroorsaak of ’n massa stof of gas.[43]
↑ 4,04,14,24,3Wright, Jason (15 Oktober 2015). "KIC 8462852: Where's the Flux?". AstroWright (in Engels). Pennsylvania State University. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 April 2020. Besoek op 16 Oktober 2015.
↑ 11,011,1Wright, Jason T.; Cartier, Kimberly M. S.; Zhao, Ming; Jontof-Hutter, Daniel; Ford, Eric B. (Januarie 2016). "The Ĝ Search for Extraterrestrial Civilizations with Large Energy Supplies. IV. The Signatures and Information Content of Transiting Megastructures". The Astrophysical Journal. 816 (1). 17. arXiv:1510.04606. Bibcode:2016ApJ...816...17W. doi:10.3847/0004-637X/816/1/17.
↑ 23,023,1Harp, G. R.; Richards, Jon; Shostak, Seth; Tarter, J. C.; Vakoch, Douglas A.; Munson, Chris (5 November 2015). "Radio SETI Observations of the Anomalous Star KIC 8462852". [astro-ph.EP].
↑ 25,025,1Schaefer, Bradley E. (13 Januarie 2016). "KIC 8462852 Faded at an Average Rate of 0.165+-0.013 Magnitudes Per Century From 1890 To 1989". [astro-ph.SR].
↑ 26,026,1Sinnott, Roger W. (2010). Sky & Telescope's Pocket Sky Atlas (3de uitg.). Cambridge, Massachusetts: Sky Publishing. ISBN978-1-931559-31-7.
↑Thompson, M. A.; Scicluna, P.; Kemper, F.; Geach, J. E.; Dunham, M. M.; Morata, O.; Ertel, S.; Ho, P. T. P. et al. (14 Desember 2015). "Constraints on the circumstellar dust around KIC 8462852". [astro-ph.SR]. Monthly Notices of the Royal Astronomical Society.