Die Hyundai Motormaatskappy is 'n multinasionale motorvervaardiger met sy hoofkwartier in Seoel, Suid-Korea. Die maatskappy is in 1967 gestig en vorm saam met sy filiaal van 32.8%, Kia Motors, die Hyundai Motorgroep, wat die wêreld se vyfde grootste motorvervaardiger is gebaseer op jaarlikse voertuigverkope in 2012.[1][2] Sedert 2008 word Hyundai Motors (sonder Kia) beskou as die wêreld se agtste grootste motorvervaardiger. [3] Hyundai het in die 2012-jaar meer as 4,4 miljoen voertuie wêreldwyd verkoop,[4] hulle totale verkope saam met Kia was 7,12 miljoen.[5]
Hyundai is tans die vierde grootste motorvervaardiger ter wêreld. Hyundai bedryf die wêreld se grootste geïntegreerde motorvervaardigingsfasiliteit[6] in Ulsan, Suid-Korea, wat 'n jaarlikse produksiekapasiteit van 1,6 miljoen eenhede het. Die maatskappy het ongeveer 75 000 werknemers wêreldwyd in diens. Hyundaivoertuie word in 193 lande deur meer as 6 000 handelaars en vertoonlokale bemark.