Die Hongare of Magjare (Hongaarseenkelvoud: magyar [ˈmɒɟɒr], meervoud: magyarok [ˈmɒɟɒrok]) is 'n Fins-Oegriesenasie en etniese groep inheems aan Hongarye wat 'n gemeenskaplike Hongaarse afkoms, kultuur en geskiedenis deel, en Hongaars as moedertaal praat. Alternatiewelik is Hongare diegene wat in Hongarye woon of in Hongarye gebore is. Om etniese Hongare van ander etniese groepe in Hongarye te onderskei, word hulle soms Magjare genoem.[21]
Hongare vorm die titulêre nasie van Hongarye, waar hulle sowat 78% van dié land se bevolking uitmaak. Naas Hongare woon etniese minderhede soos Roma (3,6%) en Duitsers (1,6%) ook in Hongarye. Behalwe vir Hongarye kom Hongaarse minderhede ook in aangrensende Europese lande soos Roemenië (6,5%), Slowakye (8,5%), Serwië (3,5%), Oekraïne (0,3%) en Oostenryk (0,2%) voor, maar die oorgrote meerderheid van Hongare woon in Hongarye.
Wêreldwyd leef tussen 13,1 en 14,7 miljoen Hongare, waarvan tussen 8,5 en 9,8 miljoen in Hongarye, omtrent 1,4 miljoen in die Verenigde State, 315 510 in Kanada, 156 812 in Duitsland en tussen 100 000 en 200 000 in Frankryk. Daarbenewens het Hongare ook in lande soos Brasilië (80 000), Australië (67 616), Frankryk (tussen 100 000 en 200 000), die Verenigde Koninkryk (52 250) en Swede (tussen 40 000 en 70 000) gevestig.
In vergelyking met ander inheemse Europese volke het die Hongare relatief laat in hul hedendaagse stamgebied gevestig. Hulle het die Pannoniese Laagvlakte rondom 895 bereik nadat hulle in die 4de en 5de eeue deur ander volke uit die sentrale en suidelike Oeralgebergte verdryf is. Die Hongare het weswaarts beweg en op hul pad riviere soos die Wolga en die Don oorskry. Hulle het in konflik met die Bisantynse Ryk en die Bulgaarse Ryk in die suide asook die Oos-Frankiese Ryk en Boheme in die weste gekom. In die 10de eeu het die Hongare met die plundering van streke in Sentraal-Europa begin, voordat hulle in 955 op die Lechfeld naby Augsburg deur die Heilige Romeinse Ryk onder Otto I die Grote verslaan is. Omtrent 1000 het die Hongare onder Stefanus I van Hongarye hul eie koninkryk opgerig en die Christendom aangeneem. Die Koninkryk van Hongarye het tot een van die magtigste ryke van die middeleeuseEuropa ontwikkel en die hele Pannoniese Laagvlakte beheers.
Na die verowering van die Bisantynse hoofstad Konstantinopel in 1453 het die Ottomane met hul verowering van die Balkanskiereiland voortgegaan. Hulle het die Hongaarse Koninkryk ernstig bedreig en in die Slag van Mohács in 1526 uiteindelik verslaan. Die Hongare het vir die volgende 126 jaar onderdane van die Ottomaanse Ryk geword. Nadat die Ottomane tydens die Tweede Beleg van Wene in 1683 verslaan is, het die bevryding van Suidoos-Europa deur Oostenrykse en ander Europese magte begin. Met die Vrede van Karlowitz het die Ottomaanse Ryk die Hongaarse gebiede amptelik aan Oostenryk afgestaan.
Die Hongare het reeds tussen 1703 en 1711 in opstand teen Oostenryk se absolutistiese magstelsel gekom en in 1711 is die tradisionele Hongaarse adel deur Oostenryk erken. Tydens die Napoleontiese Oorloë (1803–1815) was die Oostenryks-Hongaarse verhoudings oorwegend vreedsaam. In 1825 het Hongaars Latyn as amptelike taal vervang. In 1848/49 het die Hongaarse Rewolusie teen Habsburg uitgebreek, waartydens Hongarye se onafhanklikheid van die Keiserryk Oostenryk verklaar is. Nadat die opstand met Russiese ondersteuning bloedig neergeslaan en die rebelleleiers tereggestel is, het 'n tydperk van onderdrukking begin. Onder keiser Frans Josef I is in 1867 die Oostenryks-Hongaarse kompromis aanvaar en die Keiserryk Oostenryk-Hongarye gestig wat tot en met sy neerlaag tydens die Eerste Wêreldoorlog sou bestaan. As gevolg van die Trianon-verdrag van 1920 het Hongarye twee derdes van sy grondgebied en een derde van sy bevolking verloor. Hierdie "skande" van Trianon het tot die opkoms van nasionalisme in die tussenoorlogse Hongarye gelei.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Hongarye aan die kant van Nazi-Duitsland en die fascistieseItalië geveg en verlore gebiede beset. Nadat die Spilmoondhede deur die Geallieerdes verslaan is, het Hongarye saam met ander Oos-Europese lande onder die Sowjetunie se invloedsfeer gekom en 'n volksrepubliek geword. Reeds in 1956 het die Hongaarse Opstand uitgebreek wat deur die Warskou-verdragslande bloedig neergeslaan is. Hongarye het tot 1990 onder 'n Kommunistiese stelsel gebly wat in hierdie jaar soos in ander Oos-Europese lande deur 'n demokratieserepubliek vervang is. Op 1 Mei 2004 het Hongare burgers van die Europese Unie geword.
↑(de) Joachim von Puttkamer (2003). Schulalltag und nationale Integration in Ungarn. Slowaken, Rumänen und Siebenbürger Sachsen in der Auseinandersetzung mit der ungarischen Staatsidee 1867–1914. p. 11. ISBN3-486-56741-1. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)