Hildegard van Bingen (* 1098 in Bermersheim vor der Höhe (die plek van haar doopkerk) of in Niederhosenbach (indertyd die woonplek van haar vader Hildebrecht von Hosenbach); † 17 September 1179 in die klooster Rupertsberg naby Bingen am Rhein) was 'n Benediktynse non, digteres en 'n beduidende universele geleerde van haar tyd. Sy word in die Rooms-Katolieke Kerk as heilige en kerklerares vereer. Sy word ook in die Anglikaanse en Evangelies-Lutherse Kerk met gedenkdae onthou.
Hildegard van Bingen word as die eerste verteenwoordiger van die Christelike Duitse mistiek in die middeleeue beskou. Sy het in haar werke godsdienstige, geneeskundige, musikale, etiese en kosmologiese onderwerpe behandel. Vir baie hoogstaande persoonlikhede was sy 'n gewaardeerde raadgewer. Sy het jare lank 'n omvangryke briefwisseling met baie gevoer wat grotendeels oorgelewer is en waarin sy dikwels hooggeplaastes en magtiges vermaan. Daarnaas het verslae oor haar uitgebreide reise as sielsorger en haar openbare predikwerk bewaar gebly.
Hildegard van BIngen is op 7 Oktober 2012 deur pous Benedictus XVI amptelik benoem as kerklerares (Doctor Ecclesiae universalis)[1] en haar verering uitgebrei tot die wêreldkerk.[2]
Haar relieke word in die parogiekerk te Eibingen bewaar.
Verwysings