Heinz Carl Heinrich Winckler (gebore 22 Maart 1978) is 'n Suid-Afrikaanse sanger en wenner van die eerste seisoen van die Suid-Afrikaanse weergawe van Idols. Sy eerste Afrikaanse album, Ek kan weer in liefde glo, is in 2009 uitgereik.
Heinz is op Stellenbosch, Wes-Kaap gebore as die oudste van drie kinders. Hy het regte gestudeer aan die Universiteit Stellenbosch. Nadat hy Idols gewen het, het hy sy studies opgeskop vir sy musiekloopbaan. Hy is getroud met Aletté-Johanni en hul eersteling, Lian Theo, is op 23 Mei 2010 gebore.[1]
Idols
Idols was die Suid-Afrikaanse weergawe van die BritsePop Idol-program, en is aangebied as 'n talentkompetisie waar deelnemers voortdurend uitgeskakel word om die aantal deelnemers te verminder. Tydens die program is na Winckler verwys as "Hunky Heinz".
Eindronde: Once in a Lifetime; Drops of Jupiter (Tell Me), van Train; Soledad, van Westlife
Loopbaan na Idols
Winckler se debuut-enkel, Once in a lifetime, behaal dubbelplatinum in Suid-Afrika. Sy daaropvolgende debuutalbum, One step closer, sluit die liedjie in asook Soledad, 'n "cover" van die Westlife-lied wat hy tydens Idols opgevoer het, en Next stop happiness, wat ook later as 'n enkel uitgereik is.