Drenthe (Nedersaksies: Drenthe of Drentie) is een van die 12 provinsies van Nederland en is in die noordooste geleë. Die provinsie het 'n bevolking van sowat 502 000 in 2023 gehad en beslaan 'n totale oppervlakte van 2 680 km² met 'n bevolkingsdigtheid van 191 inwoners per km² land. Die hoofstad is Assen en die grootste stad is Emmen.
Drenthe het baie bosse, heide- en veengebiede. Byna al die hunebedde lê in die provinsie. Van die noorde tot die suidooste loop die Hondsrug, 'n glooiing in die landskap; die hoogste punt word gevind by die stad Emmen en meet 26,5 meter.