'n Diamant is 'n klein kosbare, skitterende steen en die hardste edelsteen én hardste natuurlike materiaal wat daar is. Diamante se gewig word in karaat bepaal. Die grootste sierdiamant ooit gevind is die Cullinan-diamant van 3 024.75 karaat.
Chemiese eienskappe
Diamant bestaan uit 'n koolstof-kristalrooster. Diamante word gevorm deur geweldige hitte en druk. By kamertemperatuur is grafiet die stabielste allotroop van koolstof en diamant is daarom metastabiel. Sy vormingsentalpie is 2,4 kJ/mol. Nes grafiet is diamant taamlik onreaktief, dog dit kan nes kool verbrand volgens:
Die hitte wat hierby vrygestel word sal nogtans 2,4 kJ/mol kleiner wees as by grafiet.
Die kristalstruktuur
Die diamantstruktuur is die argetipe van die strukturbericht-klassifikasie se A4-struktuur. Die struktuur is kubies, maar dit is nie 'n digpakking nie. Dit kan wel van die kubiese digpakking afgelei word deur die helfte van die tetraëder-holtes met 'n koolstofatoom op te vul. Sy ruimtegroep is nie-simmorfies In hierdie struktuur het elke koolstofatoom net vier naaste bure (pleks van 12 in fcc) in 'n tetraëdriese omringing. Ander stowwe wat hierdie struktuurtipe besit is silikon, germanium en een van die allotrope van tin. Hierdie struktuurtipe is baie bekend as die struktuur wat halfgeleiers besit. Ander halfgeleiers soos GaAs, InP of CuInSe2 het struktuurtipes wat van die diamantstruktuur afgelei is.
Elektriese eienskappe
Diamant is self ook 'n halfgeleier. Dit besit 'n taamlik groot bandgaping, maar die ladingsdraers se beweeglikheid is hoog. Diamant het 'n indirekte bandgaping van 5,47 eV, teenoor 1,1242 eV vir silikon. Die Hall-mobiliteit is ongeveer 2800 cm2/Vs teenoor 1600 cm2/Vs vir silikon.[1]
Die groot bandgaping verklaar dat suiwer diamant in die sigbare gebied heeltemal deursigtig is. Net fotone wat genoeg energie het (groter as 5,47 eV) sal geabsorbeer word en hierdie fotone is in die ultravioletgebied van die spektrum. Diamant se brekingsindeks is hoog: ongeveer 2,5 en dit verklaar hoekom die edelsteen so skitter.[2]
Onsuiwerhede wat in die kristalrooster opgelos is, kan aan natuurlike diamante 'n kleur gee en hulle beïnvloed ook die elektriese eienskappe.
Die waarde van 'n diamant
Die waarde van 'n diamant word deur vier faktore bepaal: gewig, snit, kleur en helderheid.
Gewig
Die gewig van 'n diamant word in karaat bepaal. Een karaat is gelykstaande aan 0.2 gram, min of meer die gewig van 'n skuifspeld.
Snit
Die snit, dit wil sê hoe die diamant gesny (geslyp) is, bepaal hoeveel lig binne die diamant vasgevang en weerkaats word. Hoe meer lig vasgevang word, hoe duurder is die diamant.
Kleur
Diamante word sorteer en gradeer volgens hulle deursigtigheid. Kleurlose diamante word gradeer van D (heeltemal kleurloos) tot Z (geel).
Helderheid
Diamante word op 'n 11-punt skaal gegradeer volgens vlekkeloosheid.
Die eerste diamant wat in Suid-Afrika gevind is, is die Eureka-diamant. Hierdie diamant is deur Erasmus Jacobs gevind naby Hopetown en weeg 21,25 karaat, ongeslyp. In 1868 is 'n diamant van 83,5 karaat gevind op die plaas Zandfontein, ook naby Hopetown. Hierdie diamant staan later bekend as die Ster van Suid-Afrika.
In 1888 is die De Beers-diamant van 428.5 karaat in 1888 in die Kimberley-myn gevind
Op 30 Junie 1893 is die Excelsior-diamant gevind in die De Beers-myn te Jagersfontein. Dit het 971 karaat geweeg en was op daardie stadium die grootste diamant in die wêreld.
Die Jubilee-diamant van 650.80 karaat is 1895 in die Jagersfontein-myn gevind.
Die Cullinan-diamant is op 26 Januarie 1905 in die Premiermyn by Cullinan gevind deur Frederick Wells. Dit is tot op datum die grootste diamant wat ooit gevind is.
Die Jonker-diamant van 726 karaat was die vierde grootste diamant ter wêreld gewees toe dit op 17 Januarie 1934 deur die delwer, Jacobus Jonker, gevind is op die plaas Elandsfontein, Pretoria.