Die terrein strek oor twee provinsies, Chaco en Santiago del Estero, sowat 1 000 km noordnoordwes van Buenos Aires, Argentinië, en sowat 500 km suidwes van Asunción, Paraguay. Die kraterveld is 3 by 18,5 km groot en bevat minstens 26 kraters, waarvan die grootste een 115 by 91 m is.[2]
Die verstrooiingsveld wat met die meteoriet verbind word, is 'n bykomende 60 km groot met baie, kleiner fragmente.
Die kraters is na raming vier- tot vyfduisend jaar oud. Hulle bestaan is in 1576 aan die algemene publiek bekend gemaak, maar was reeds onder inheemse mense bekend.
Die kraters en omringende gebied bevat baie meteorietfragmente. Stukke van sowat 100 ton is reeds herwin, die meeste van enige meteoriet tot dusver.[3][4]
Die grootste twee fragmente, die "Gancedo" van 30,8 ton en "El Chaco" van 28,8 ton, is die grootste soliede meteorietmassas wat al op Aarde ontdek is naas die Hoba-meteoriet van 60 ton in Namibië en een stuk van 31 ton van die Kaap York-meteoriet in Groenland.