Die oudste geskiedkundige dokumente wat na die dorp verwys dateer uit die jaar 1030. Die belangrikste geboue wat van die ou dorp en sy versterkings bewaar is, is die vesting, wat tans die kantore van die plaaslike administrasie (Ajuntament) huisves, en 'n poort na die strand. As gevolg van sy ligging tussen rotse wat tot by die see strek, was Cadaqués van die omliggende gebiede afgesny en eeue lank net vanuit die see toeganklik.
In 1444 is die dorp tydens 'n seerowerinval afgebrand. Teen die einde van die 19de eeu het die druifluis groot skade in die plaaslike wingerde berokken.[1]
Cadaqués is vandag 'n toeristeoord en tydens die toeristeseisoen styg die bevolking tienvoudig.
Kunslewe
Die rustigheid van die dorp het steeds 'n groot aantal kunstenaars en intellektueles gelok, en Cadaqués het veral as 'n gewilde verblyfplek vir skilders en beeldhouers bekend gestaan.
Op die hoogste plek van die ou dorpskern verrys die kerk Santa Maria, wat vanaf die middel van die 16de eeu in die Laat-Gotiese boustyl opgerig en in die 18de eeu voltooi is. Die kerk besit 'n altaarstuk in die barokstyl, wat deur Jacint Moretó ontwerp en deur Pau Costa uitgevoer is. Die altaarstuk is in 1725 van hout gemaak en in 1788 vergoud.