Beta Cephei is ’n driedubbele sterstelsel bestaande uit ’n spektroskopiese dubbelster en ’n metgesel met ’n skynbare magnitude van 8.[4] Die sterre se gesamentlike skynbare magnitude wissel tussen 3,15 en 3,21 met ’n periode van 0,1904844 dae.
Beta Cephei A is ’n bloureus met ’n sterreklassifikasie van B2 IIIev.[1] Die "ev" staan vir "spektraalemissies wat veranderlikheid toon". Dié reus het ’n radius van 9 R☉ en ’n massa van 12 M☉. Soos die meeste klas B-sterre met ’n groot massa, is Beta Cephei ’n relatief jong ster met ’n geraamde ouderdom van 50 miljoen jaar. Beta Cephei A draai stadig om sy as, teen sowat 7 grade per dag – ’n volle rotasie duur sowat 51 dae.
Name
"Beta Cephei" is die ster se Bayer-naam. Die tradisionele naam is "Alfirk" (Arabies: الفرقة al-firqah), wat "Die Trop" beteken; dit verwys na ’n trop skape. Dié ster, saam met Alpha en Eta Cephei, is deur Ulug BegAl Kawākib al Firḳ (الكوكب الفرق) genoem: die "Sterre van Die Trop".[5][6]
In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Alfirk" vir die ster Beta Cephei Aa goedgekeur[7] omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het in plaas van aan stergroepe.