Asemhalingstelsel

Diere moet asemhaal - suurstof opneem en koolsuurgas afgee – om aan die lewe te bly. Baie klein waterdiertjies haal eenvoudig deur hul liggaamsoppervlak asem. Groot waterdiere het spesiale asemhalingsorgane, naamlik kieue, om suurstof op te neem uit die water waarin hulle leef. Landbewoners se asemhalingsorgane word longe genoem en insekte haal asem deur 'n tragee-stelsel. Hoewel bogenoemde asemhalingsorgane gewoonlik doeltreffend is om voldoende suurstof op te neem en koolsuurgas af te gee, het sommige waterdiere hulporgane om met suurstofopname te help. Ook waterinsekte het dikwels hulporgane nodig omdat hul tragee-stelsels op lugasemhaling ingestel is.

Egte asemhalingsorgane

In beginsel kan asemhalingsorgane oral in die liggaam voorkom waar 'n vogtige, gasdeurlaatbare membraan met die buitewêreld in aanraking is. Die vogtigheid help met die gaswisseling omdat gas die membraan makliker in 'n opgeloste vorm kan binnedring.

Eensellige diere het die heel eenvoudigste manier van asemhaling. Hulle gebruik die hele liggaamsoppervlakte as 'n asemhalingsmembraan. Groter diere sou egter nie so aan die lewe kon bly nie en het spesiale asemhalingsorgane wat uitgevoer is met blasies of plooie om die oppervlakte te vergroot. Hierdie organe neem suurstof uit die atmosfeer op en gee koolsuurgas af. Seesterre en ander stekelhuidiges het uitstulpings op hul watervatstelsels. Molluske, ringwurms, krewe en visse het weer uitstulpings in die vorm van kieue.

Insekte se tragee-stelsel bestaan uit ʼn vertakte buisstelsel wat vars lug tot by die weefseiselle voer. Spinagtiges (Arachnida) se asemhalingsoppervlak word deur 'n aantal lammelle vergroot. Die lammelle word deur luglagies van mekaar geskei. Die lammelle kom in die Spinagtiges se boeklonge voor. Amfibieë, reptiele, voëls, soogdiere en mense het longe wat uitstulpings van die ingewande is. Omtrent alle diere voer asemhalingsbewegings uit om die toevoer van water of lug na die asemhalingsorgaan te bevorder.

Wurms kronkel, skulpdiere se trilhare tril, ʼn padda pers sy mondholte saam, en die mens beweeg sy borskas en middelrif (diafragma). Tipiese asemhalingsbewegings word reflektories deur die sentrale senuweestelsel (by gewerwelde diere enmense) gereël.

'n Hoë konsentrasie koolsuurgas (CO2) in die bloed veroorsaak 'n sensoriese prikkel in die asemhalingsentrum van die rugmurg, wat op sy beurt 'n motoriese impuls na die spiere van die diafragma stuur. Eerstens word die suurstof dus uit die atmosfeer na die asemhalingsorgaan gebring, en tweedens moet die opgeneemde suurstof na alle selle van alle liggaamsdele vervoer word. By hoër diere en die mens neem die bloed die suurstof op direk nadat dit die dun weefsel van die asemhalingsorgane binnegedring het. Die bloed sorg dan vir die verdere vervoer van die suurstof na die selle.

Bykomstige asemhalingsorgane

Diere wat in 'n omgewing lewe waar daar nie genoeg suurstof teenwoordig is nie, het dikwels bykomstige asemhalingsorgane om die opneem van suurstof te bevorder. Die verskynsel kom dikwels voor by visse wat in suurstofarme water of klein waterpoele lewe. Die kieuspleet-aal (genus Synbranchus) gebruik nie net sy kieue nie maar ook sy mond en die slymvlies in sy keel vir asemhaling. Die modderkruiper (familie Cobitidae) haal weer met sy dermkanaal asem. Die lug word ritmies deur die bek ingesluk en uitaseming geskied deur die bek of die anus. Paddas kan ook deur hul huid asemhaal, veral wanneer die padda hiberneer.

Bronnelys

Eksterne skakels