Die parallaks van die twee helderste sterre is gemeet as deel van die Hipparcos-sending: 47,44 milliboogsekondes vir A en 47,14 vir B.[1] Aangesien die sterre verbind is, lê hulle op dieselfde afstand en die verskil in parallaks word beskou as ’n eksperimentele fout. As A se parallaks geneem word, is die sterre 21,1 parsek van die Aarde af.
Eienskappe
Sterre A en C vorm ’n dubbelster sowat 73 AE van mekaar af.[2] Ster B is sowat 860 AE van ster A af. Beide 16 Cygni A en B is geel dwergsterre soos die Son en hul massas is ook byna dieselfde as die Son s’n.[3][4] Die raming van hul ouderdomme wissel, maar 16 Cygni is waarskynlik ouer as die Sonnestelsel, sowat 10 miljard jaar.
In 1996 is ’n eksoplaneet in ’n sonderlinge baan om 16 Cygni B ontdek.[5] Dit voltooi ’n wentelbaan in 798,5 dae en het ’n halwe langas van 1,68 AE.[6] Nes die meeste eksoplanete wat van die Aarde af waarneembaar is, is 16 Cygni Bb se bestaan afgelei van die ster se radiale snelheid. In 2012 het die sterrekundiges E. Plavalova en N.A. Solovaya bereken die massa moet sowat 2,38 Jupiter-massas wees.[7]
’n METI (Message to Extra-Terrestrial Intelligence) is op 24 Mei 1999 na die 16 Cygni-stelsel gestuur vanaf die 70 meter hoë Eupatoria Planetêre Radar. Die boodskap is "Cosmic Call 1" genoem en sal 16 Cygni in November 2069 bereik.[8]